Soos ’n donkieskop op die maermerrie van die uitgelese gehoor. Dalene Matthee by die skrywersberaad in 1984 op Gordonsbaai.

Sy het met die trein van Hartenbos af gekom. In haar “aktetas”, ’n OK Bazaars-inkopiesak, was haar nuwe roman. Tydens haar spreekbeurt het sy “fyn gespog” dat haar boek “die mees gelese boek” in Afrikaans sou wees. 

In dié stadium het Dalene nog nie ’n uitgewerskontrak geteken nie. En Kringe in ’n bos, wat die mees herdrukte boek in Afrikaans sou word, was nog net ’n manuskrip. Dalene net nog ’n astrante skrywer, vertel Amanda Botha, Kaapse skrywer, joernalis en jare lange vriendin. 

“By die einste beraad is ’n nuwe beskrywende woord geskep: middelmoot-lektuur. Ondergeskik aan hogere letterkunde en ’n kop hoër as klubboekskrywers. Duidelik sou Dalene in dié kategorie val. Dis in die konteks van die hoogbloei van sogenaamde betrokke letterkunde. Waar politieke inhoud teen die establishment byna ’n vereiste was om werklik ernstig opgeneem te word.” Gróót name, soos André P. Brink, Etienne Leroux, Bartho Smit, Adam Small, Chris Barnard, Jan Rabie en Elsa Joubert.

Dalene? Niemand het veel meer van haar geweet as dat sy twee jaar tevore met ’n kortverhaalbundel, Die judasbok, gedebuteer het nie. “Sy het daardie dag gepraat oor hoe belangrik dit is om stories te vertel, stories wat op werklikhede gebou word en mense aan die lees sal sit. Dat sy nie ’n snars omgee hoe haar boek geëtiketteer word nie. Trek maar neus op, dié wat wil,” sê Amanda.

Dertien boeke later en Dalene is die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as 1 miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. Kringe in ’n bos is ’n allemintige 54 keer in Afrikaans herdruk. Haar werk is in 14 tale vertaal. Sy is bekroon met onder meer die ATKV-Prosaprys (4 keer), Suider Afrikaanse Instituut vir Boswesetoekenning (2 keer), Switserse STAB-toekenning en die departement van kuns en kultuur se Suid-Afrikaanse Letterkundeprys (Sala-eerbewys). Fiela se kind is in 1999 as Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys.

Met haar dood dertien jaar gelede is ’n gedenksteen by ’n reuse-geelhout in die Knysnabos opgerig. Dis herdoop na die Dalene Matthee Big Tree en die Kringe in ’n bos-sirkelroete van 9 km begin daar. Haar laaste wens was dat haar as in die bos, by Krisjan-se-Nek, gestrooi word. 

Nou kry haar geliefde bos weer lewe op die silwerdoek met Toorbos wat tans verfilm word (dit word in 2019 uitgereik). Later vanjaar is dit Fiela se kind se beurt. As als goed gaan, word ook Kringe in ’n bos die eerste keer ’n Afrikaanse fliek, volgens Danie Bester, medevervaardiger van Fiela se kind. (Kringe in ’n bos is in 1989 as Circles in a Forest deur Regardt van den Bergh verfilm met Arnold Vosloo in een van die hoofrolle.)

Kringe in die bos
Kringe in die bos
Fiela se kind
Fiela se kind
Toorbos
Toorbos
Moerbeibos
Moerbeibos

Dit gaan haar boeke aan ’n hele nuwe generasie bekend stel. Nie dat daar ’n Afrikaanse kind is wat die naam Dalene Matthee nie ken nie. Kringe in ’n bos en Fiela se kind is dekades al voorgeskrewe werke in skole. Sewe van haar boeke is steeds in druk, in ’n tyd dat mense skaars nog lees: Die vier bosboeke (die vierde is Moerbeibos), asook Petronella van Aarde, burgemeester, Pieternella van die Kaap en ’n Huis vir Nadia, volgens Tafelberg Uitgewers. Fiela se kind die toneelstuk is verlede jaar opgevoer onder regie van Frans Swart, met Shaleen Surtie-Richards as Fiela. Einste Shaleen wat telkemale die rol vertolk het, ook in die fliek in die tagtigs onder regie van Katinka Heyns. Fiela vat nie nonsens nie. Sê ’n ding reguit, sê Shaleen: “Die magistraat se moer.” “Baas probeer visvang in ’n pispot.” Die kinders in die gehoor wil hulle glo doodlag as Fiela dit sê.

Soos Langenhoven het Dalene se werk ’n volkskat geword. Miskien lê haar toorgoed by die eenvoud van haar verhale. Maar vol wyshede waarmee ons almal kan identifiseer. Toeganklik vir oud en jonk, slim en minder slim. Daar is haar mooi Afrikaans terwyl die taal juis nou onder druk is. En natuurlik die bos, waar bome kalanders en olifante grootvoete word. “Onder Dalene se hande word die bos ’n driedimensionele fees,” sê Annie Malan, in 1988 die kleine Nina met die wilde boskaas in die fliek Fiela se kind

Dan is daar Dalene self, moeilik om in ’n kassie te druk. “Ek ken geen ander mens – of skrywer – soos sy nie. Sy was net ‘anders’ en in elke opsig heel onvoorspelbaar,” volgens Amanda. “’n Uitmuntende verteller en herskepper van verhale; haar karakters word mense wat jou binneste bevolk. Vir hulle het sy ’n innige deernis en opregte respek gehad. Sy was maar te bewus van hul broosheid en feilbaarheid.”

Shaleen sê: “Fiela se storie is never-ending. Dit gaan nie oor apartheid nie, maar liefde. ’n Ma se liefde vir haar kind.” En ja, ’n goeie boek raak nooit oud nie, dit groei saam met die tye en gebeure, volgens Liezel Steenkamp, Afrikaans onderwyseres by die hoërskool Paarl Gimnasium. “Ontworteling, ’n tema in Toorbos, sien ons nou oral. Dis ook nie net politieke vlugtelinge nie. Jy woon iewers anders as waar jy gebore is en gemaklik voel, vir oorlewing.” 

Film director & screenwriter Rene Van Rooyen at he
Rene van Rooyen FOTO David Harrison vir die Mail & Guardian

Vir René van Rooyen, draaiboekskrywer en regisseur van Toorbos, is dié storie rondom die prys van vooruitgang gebou. Wat ons moet prysgee sodat die wêreld vooruit kan gaan. “Die mens het sy verbintenis met die natuur verloor. In die fliek het die natuur ’n eie karakter, dit raak lewendig.” En: “Ek hoop mense kry [uit die fliek] die gevoel van iets wat ons moet herontdek. Dat die balans tussen mens en natuur uit is.”

Bewaring, vertel Hilary, Dalene se jongste dogter, het haar ma altyd na aan die hart gelê. Eers was dit historiese geboue, later die Knysnabos. Die verwoesting van die bos en die ondeurdagte doodmaak van Knysna-olifante is dan ook die sterkste tema in Toorbos en Fiela

Daarteenoor staan die bos, “magic, ongekunsteld, pure verbeelding”, volgens Liezel. “Die onderwys fokus só op wiskunde en wetenskap, ’n kind het nog nie sy eerste tande nie, dan is hy al bang vir wiskunde. Ek is ’n voorstander dat kinders eers goed leer lees en skryf, dan vaar jy sommer ook beter in wiskunde. Uit ’n goeie stuk letterkunde kan ’n kind soveel leer. Die waarde van stories en letterkunde word te gering geskat.”

Baie is gesê oor Dalene se noukeurige navorsingswerk. “Haar nuuskierigheid het haar gedryf, haar werkroetine en dissipline verstommend,” sê Amanda. Hilary voeg by: “My ma het ’n ding oor die waarheid gehad. ‘Mense is honger vir die waarheid,’ het sy altyd gesê. En: ‘Moenie ’n voetnota glo nie, gaan dit na.’ As een feit bevraagteken word, word die hele boek met daai kwas geverf, het sy geglo.”

Só moes Dalene vir Fiela se kind die enigste meestersgraad ter wêreld oor ’n volstruis deurwerk. “Jy kan nie ’n volstruis in ’n kamp sit met ’n potlood nie. Jy was nog net by die Safari Ostrich Farm op Oudtshoorn. Wat weet jy van ’n volstruis?” Só is Dalene op LitNet aangehaal. 

In Italië, waar sy navorsing vir Moerbeibos doen, sukkel sy om by die sy-museum uit te kom – niemand weet van so ’n plek nie. Toe sy dit uiteindelik kry, is als vol stof en spinnerakke. “Asof dit nie erg genoeg was nie, gee die konsul my boonop so ’n wulpse jong meisietjie om my te help ... het jy al gesien hoedat my ou man sommer net daar en dan die grootste belangstelling in geskiedenis kan ontwikkel?”

Dalene Matthee
Dalene Matthee op 'n argieffoto van NB Uitgewers.

Feite is een ding. ’n Heel ander saak om asem daarin te blaas. Sy stel dit self só: “Ek weet wanneer om stadig te loop; ek weet wanneer ek moet draf.” Die “stadig loop” is wanneer sy intens oor ’n onderwerp lees, die “draf ” wanneer haar storie haar op loop neem, volgens Amanda. 

Dan het ons dalk ook, in die dae van sosiale media en selfone, behoefte aan ’n glorified fairy tale, soos sy Kringe by geleentheid genoem het. “Ek wou probeer om ’n werk te skryf wat ’n bietjie van Rooikappie se sukses het.”

Toorbos, met al sy maatskaplike realisme (die laaste dae van die houtkappers), omvat die onsigbare en bonatuurlike in die Knysnabos. “Dié deel van die bos wat die oë nie kan sien nie. Dis ’n persoonlike, eerlike boek. Ek sou graag vir die bos wou gaan sê ek het my dankie geskryf.” En: “Daar is ’n aspek van die bos wat van die begin by my was, maar nie in ’n ander boek gehoort het nie. Vandat Kringe in ’n bos geskryf is, sou ek darem baie graag ’n fairy in ’n boek wou hê.”

En Toorbos se Karoliena wat haarself in ’n boom verander? “Dit het my vreugde gegee wat hier uit die solar plexus kom. Jitte, sy was nou ’n nice boom. Was sy nie ’n nice boom nie?” Dalene het die bos gerespekteer, gesê ’n mens kan nie met die verkeerde gesindheid daarheen gaan nie. Sy het altyd eers die bos se toestemming gevra voor sy navorsing gaan doen of ander mense soontoe geneem het.

boskind
Annie Malan as Nina in "Fiela se kind"

Interessant was sy, eksentriek ... “Sy het beslis haar nukke en grille gehad – soms het mense dit sommer onbeskof genoem,” sê Amanda. “Ek het altyd gedink dis net ’n fasade vir ’n diep gevoelige mens, wat werklik kon liefhê.” Dalene vertel self sy het as skoolmeisie op Riversdal al giere gehad en dit was glo nie maklik om met haar huis te hou nie. 

Amanda: “Haar groot liefde was haar teddiebere, ’n redelike versameling – party met pedigrees wat benydenswaardig was. Elke dag is hulle aangetrek vir watter geleentheid ook al. Die laaste keer dat ek haar gesien het, het sy gekla die een teddie vloek so, sy was genoodsaak om ’n Kinderbybel te koop wat sy langs hom staangemaak het.” (Eintlik was dit háár versameling bere, sê Hilary. “En weet jy hoe het ek gesoek na daai Kinderbybel, een met outydse prente?”)

Roem het haar nie verander nie. As mense haar gevra het hoe dit voel om beroemd te wees, sou sy antwoord: “Ek het net ’n gewone, moeilike man en stoute kinders. Wat help dit ek het die wêreld aan my voete en dink ek is so wonderlik en verloor my siel in die proses? Want dit is met my siel waarmee ek skryf.” Só het Hilary haar telkemale hoor sê. 

dsadsa
Dalene en Shaleen Surtie-Richards in 1989.

“Sy het nie van fame gehou nie,” beaam Shaleen. “As iemand swymel oor hoe wonderlik sy is, maak sy haar oë so groot en sê ‘ag foeitog’, sy was so nederig.” Rapport stuur Shaleen in die tagtigs Hartenbos toe om Dalene te ontmoet. “Omdat ek so baie drama met die play gehad het. Die regisseur, Suzanne van Wijk, wou ’n wit vrou vir die rol hê. Ek wou nie uit daai Kombi klim nie, ek was te bang. Wat gaan sy sê? Dalene kom uit die huis, gooi haar arms om my en sê: ‘Jy is my Fiela.’”

Amanda se laaste besoek aan Dalene was in Februarie 2005, twee weke voor haar skielike dood. “Sy het in redelike besonderhede die slot van Die uitgespoeldes – toe nog in wording – vertel asof dit ’n dwingende noodsaaklikheid was. ’n Maand later moes ek help om die slot vir publikasie af te werk.”

Hoe sou sy vandag voel oor die herdrukke en nou ook die films van haar romans? Amanda: “As ek dink aan haar ‘spog’ toe sy nog net met Kringe in ’n bos se manuskrip gestaan het, sou sy dalk heel uitdagend sê: ‘Nou moet julle maar jul woorde sluk en erken dat niemand ’n storie soos Matthee kan skryf nie!’ ”