Toe ek ’n paar jaar gelede in Spanje gewoon het, was supermarkte vir my net so interessant soos museums. Op ’n dag, omring deur rakke vol eksotiese bestanddele en vreemde produkte, tref iets bekends my oog. La Buena María (die goeie Maria). Maar dis mos Marie daai, dog ek. En wat maak ons Marie hiér? Met dieselfde sirkelvorm en kenmerkende patroonrandjie, is Marie tot María herdoop.

Ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat Marie so eg Suid-Afrikaans is soos Mrs Ball’s-blatjang en Ouma-beskuit, en was salig onbewus dat sy deur adellikes geïnspireer is, dat sy al byna 150 jaar oud is, en dat sy in omtrent elke uithoek van die aarde geniet word.

Marie-beskuitjies is in 1874 deur die Londense bakkery Peek Freans geskep om die huwelik van koningin Victoria se naasoudste seun, Alfred, met Maria Alexandrovna, die enigste dogter van Rusland se tsaar Alexander II, te gedenk. Dit sou die eerste en laaste keer wees dat ’n Romanov met ’n lid van die Britse koningshuis trou, en hoewel koningin Victoria haar bedenkinge oor die verbintenis gehad het, is die troue met groot swier in Engeland en Rusland gevier.

Voor die verskyning van Marie-beskuitjies het Peek Freans growwe skeepskoekies genaamd hardtack gemaak – hard, soos die naam sê, maar geskik vir lang seereise en grou, koue winters, met min of geen vars produkte nie. Vandag is ons so bederf met luukse koekies – konfytvulsels, in sjokolade gedoop en met lekkernye besprinkel – jy kan skaars glo dat die onopgesmukte Marie haar wêrelddebuut as fyngebak gemaak het.

Dit was wel die eerste fyngebak wat op groot skaal geproduseer is, maar dit was steeds geskik vir ’n prinses. Die randpatroontjie is deur die versierde vloerteëls in Russiese herehuise geïnspireer. En die jong bruid is natuurlik vereer met haar naam op die beskuitjie.

Marie-beskuitjies was ’n reuse-treffer in Engeland en het vinnig oor die wêreld versprei. Hoewel patentregte in die 1800’s reeds bestaan het, het Peek Freans nie die resep gepatenteer nie.

Wat ’n gelukskoot vir koekieliefhebbers wêreldwyd, want in 1885 voer Baumann’s Biscuits in Durban reeds die eerste fyngebakmasjien van Engeland af in. Kort daarna was Marie-koekies van gelykstaande gehalte en smaak ook hier beskikbaar.

Vandag word die koekies deur ’n magdom maatskappye in meer as 40 lande geproduseer, en hoewel die naam soms aangepas word, is dit altyd ’n herkenbare weergawe van die oorspronklike Marie.

Benewens die patroonrandjie en die gaatjies rondom die naam bo-op die koekie, het die Marie wêreldwyd dieselfde onpretensieuse vanieljesmaak. Vir miljoene mense is dit die perfekte doopkoekie, om gewoon te geniet met ’n lekker koppie tee of koffie. Maar danksy die bros tekstuur, subtiele geur en bekostigbaarheid van die koekie, het Marie haarself as bestanddeel onmisbaar gemaak. In tertkorse, as strooisel, in fudge, en selfs as ’n verdikker in sop of bredie.

Marie-beskuitjies is die spreekwoordelike leë doek van die koswêreld. Sy kort net ’n knippie kreatiwiteit, ’n lekseltjie dit en ’n raspertjie dat, en jy’t ’n nuutskepping. Dink maar aan die generasies koshuiskinders wat die hunkering na hul huiskombuis met ’n pakkie Marie en ’n blikkie kondensmelk weggeëet het. Lank voor ons van S’mores geweet het, was Maries met ’n vulsel reeds ’n ding.

Persoonlik verkies ek twee preutse Maries met ’n geil laag romerige botter in die middel. Kosskrywer Sam Woulidge onthou hoe sy as kind haar botterbesmeerde Maries gedruk het tot botterwurmpies deur die gaatjies gepeul het.

Marie pas by alles van kondensmelk, karamel, grondboontjiebotter en heuning tot tuisgemaakte S’mores met ’n malvalekker tussen twee koekies wat vinnig in die mikrogolfoond gesmelt word.

En dan is daar die souterige Marie-maats. Kaas met of sonder botter, Marmite, Bovril en die slaat-my-om-met-’n-kaneelstokkie-ligsinnigheid van kondensmelk én sardientjies! Suid-Afrikaners se liefde vir bisarre soet-en-sout-kombinasies ken geen perke nie. Nés ons geliefde Marie. Ná byna 150 jaar vind elke generasie nuwe maniere om die beskuitjie op te tert, of in nog ’n resep te inkorporeer.

Marie was aanvanklik fênsie – in vergelyking met die klipharde koekies waarop seemanne hul oorblywende tande stukkend gebyt het – maar die ongekompliseerde bekostigbaarheid van die resep het gesorg dat dit met verloop van tyd ’n stapelvoedsel geword het.

Kosstileerder en kookboek-skrywer Callie Maritz het as 13-jarige sy konstante hongerpyne met Maries gestil. “Ek het ’n koffiebeker gehad waarin ’n Marie presies gepas het. Dan het ek vier op ’n slag in die koffie gedruk en gekyk hoe dit deur die gaatjies syfer, voor ek nog vier ingedruk het. Ek kon so sestien tot twintig inpas tot al die vloeistof geabsorbeer is, en dan het ek die warm Marie-pap met ’n teelepel geëet.”

Callie se Marie-smake is vandag ietwat meer verfynd. Hy bak graag daarmee en sy gunsteling is “Die Koekenaap”-melktertresep in Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, geskryf deur Callie en sy suster, Mari-Louis Guy. Die kors bevat ’n mengsel van Marie-krummels en kokosneut, wat bo-oor gestrooi word.

Die Spanjaarde was veral versot op Marie. Die Latynse María het ná afloop van die burgeroorlog in 1939 ’n simbool van ekonomiese heropbou geword. Spaanse bakkerye het massas Marías geproduseer om die koringoorskot te verwerk.

Namate die ekonomie herstel het, is María ook op meer vindingryke maniere gebruik. Die beskuitjie word dikwels met ’n lagie vanieljevla geëet, maar myns insiens vat Barcelona die koek as dit by Marías kom.

Twee beskuitjies met ’n lagie vla tussenin word blitsig in melk en dan in eier gedoop, waarna dit in olie gebraai word tot goudbruin. Die warm koekies word dan in kaneelsuiker gerol! Derduisende middernagfeeste en kerkbasaars later, en niemand hier het ooit dááraan gedink nie? Die Kataloniërs mag maar.

María is ewe gewild in Latyns-Amerika. In Uruguay word dit met dulce de leche (karamel) en gerasperde kokosneut geëet. In Brasilië week hulle die beskuitjies in melk en pak dit in lae met sjokolade-en-vanieljevla tussenin om ’n torta de bolacha (beskuitjietert) te maak. Die Iere noem haar Marietta en Noorse Mariekjeks bevat as gevolg van verbruikersdruk geen palmolie nie. Plek-plek word ’n karamel- of sjokoladegeur-Marie gemaak, maar die oorgrote meerderheid lyk en proe soos die oorspronklike beskuitjie.

Die resep bestaan sedert 1874 uit koringmeel, suiker en palmolie of sonneblomsaadolie, en het ’n subtiele vanieljegeur. Dis juis die afwesigheid van botter wat dit vir die Spanjaarde so lekker maak, aangesien hulle tradisioneel nie botter eet nie en eerder met olie bak. Die lae voginhoud van 1-6% maak die Marie ’n uitstekende doopkoekie, want dit keer dat die dun koekie onmiddellik in warm vloeistof verkrummel.

Een van die min lande wat nie aan die gewilde Marie wou byt nie, is Frankryk. Juis omdat dit geen botter bevat nie, en wanneer dit by gebak kom, verkies die Franse hul koekies bros en botteragtig.

Baumann’s Biscuits, die oorspronklike vervaardiger van Marie-beskuitjies in Suid-Afrika, het sy naam in 1915 na Bakers Biscuits verander. Bakers Blue Label Marie is steeds die grootste verkoper van Marie-beskuitjies in Suid-Afrika. Sou die beskuitjies langs mekaar in ’n ry gepak word, vervaardig Bakers 175 km se Maries per dag. Die jaarlikse produksie sou 15 keer om die aarde kon draai. Volgens Bakers het die oorspronklike resep van 1885 al geringe veranderinge ondergaan, meestal om by nuwe masjinerie aan te pas of wanneer ’n verandering in die gehalte van ’n bestanddeel dit vereis. Maar die doel is altyd om die beskuitjie so getrou moontlik aan die oorspronklike te hou.

Die bakkers by Peek Freans wou ’n huwelik gedenk, en slaag toe heel per toeval daarin om een van die suksesvolste resepte nog te ontwikkel. Marie is meer as net ’n handelsmerk, dit is ’n spesifieke en uiters gewilde tipe gebak.

Ek vermoed prinses Maria sou geskok wees oor die globale nalatenskap van haar huweliksviering. Maria was ’n rabbedoe en haar pa se oogappel. Sy was uitgesproke en daaraan gewoond om haar sin te kry. Koningin Victoria het haar skoondogter se onopgesmuktheid aanvanklik waardeer, maar albei was hopeloos te hardkoppig om goed oor die weg te kom. Dit het waarskynlik ook nie gehelp dat haar man, Alfred, heelwat sterker drinkgoed as tee verkies het nie. Maria kon nooit vat kry aan haar nuwe vaderland nie, en sy was nooit so gewild in Engeland soos die beskuitjie wat na haar genoem is nie. Vir haar was Engeland bleek, vervelig en smaakloos. En ek vermoed dat Marie – soos Engeland – nie haar ryk, Russiese smaak bevredig het nie.

Dit was nie ’n gelukkige huwelik nie, maar ironies genoeg word dit 150 jaar later steeds herdenk met elke Marie wat gedoop, verkrummel of gevul word. ’n Teekoppie of kleinbordjie met ’n prentjie van Wills en Kate kom nie naby Marie se 150 jaar van globale gewildheid nie. Al wat ek vir prins Harry en sy Meghan vooraf sou gesê het, is oorweeg gerus ’n eetbare herdenking, want kyk net vir Marie!

Prinses Maria Alexandrovna