Om te boer loop in sy are en Gerhard Bruwer van die Noord-Kaap is trots daarop. “As ek my alie sien, sal ek dit wéér doen! Selfs al kry jy daardie dae wat jy bid dat die son sak sodat die dag net kan end kry.”

Gerhard is een van die dinamiese boere wat SARIE gaan afneem het. In samewerking met GWK, Agri SA en Shell Downstream SA.

In landboukringe is Suid-Afrikaanse boere wêreldwyd bekend vir hul harde werk, deursettingsvermoë, sakevernuf en ’n immergroen positiwiteit en passie. Tog is die gewone publiek se siening van die mense wat sorg dat ons kos op die tafel het, dikwels skeefgetrek. Onwillekeurig roep ons ’n prentjie van stof, sweet en kakieklere op. Hierdie beeld is ver van die waarheid, sê GWK, Agri SA en Shell Downstream SA, drie maatskappye wat die belange van ons land se boere op die hart dra. Omdat hulle daagliks met ons voedselverskaffers werk, weet hulle dis ’n ander storie.

Hier's sy storie:

GERHARD BRUWER

37, MEDE-EIENAAR EN AANDEELHOUER, GENADE BOERDERY, PLAAS PICTON, DOUGLAS- EN HOPETOWN-OMGEWING, NOORD-KAAP.

“Boer is my passie,” sê Gerhard prontuit. Pa Vickie, wat klein begin en bly bou het aan wat vandag die indrukwekkende Genade Boerdery is, het al in ’n onderhoud gesê: “Om gelukkig te wees, moet jy jou passie uitlééf.” (www.grainsa.co.za)

So is dit vandag met Gerhard. So ook met sy broers Hannes en klein Vickie nadat die seuns teruggekeer het plaas toe. En nou saam boer met mielies, koring, katoen, lusern, aartappels, grondbone, saadsonneblom en vee. Die Bruwers kén van hard werk, word gesê, en dinge, reg en verkeerd, word in ’n swart hardebandboek aangeteken.

Oor hul gemengde boerdery sê Gerhard: “As ek my alie sien, sal ek dit wéér doen! Selfs al kry jy daardie dae wat jy bid dat die son sak sodat die dag net kan end kry.” Intens, allesomvattend, dís boerdery vandag. Maar, sê Gerhard, hy kom in die aande by die huis en sluit af. Naweke is dit gholftyd, braaityd. En in die seisoen, jagtyd.

FOTO Marijke Willems

“Dis ’n voorreg om op ’n plaas te bly. Maar mense sien dikwels nie die ander kant nie. Dis werk, hárde werk.” Só praat Liezel (36), wat haar plek as mede-“boer”, administrasieklerk, winkelbestuurder, eggenote en ma op Picton volstaan.

Ná sy ’n honneurs in kinderkinetika aan die UV behaal het, het sy vir GWK gewerk voordat sy en Gerhard getroud is. Vandag behartig sy die administrasie van die plaas. “Ek kán saampraat oor boedery en die bedryf! Maar as dit kom by die politiek en aktuele sake, moet Gerhard byhou. As ek iets wil weet, vra ek hom.”

Met drie kinders, haar plaasbedrywighede en komitees waarin sy dien, het sy behoefte om elke nou en dan te herlaai. “Vrydae koek-en-tee ek saam met vriendinne, of besoek ’n spa (ek’t al vir Gerhard saamgesleep!).” En daar’s haar selfoon-apps vir die nuutste musiek en ’n oefenprogram of twee.

“Die plaaslewe kan geïsoleerd wees, maar my kinders hou my besig en ek voel nooit alleen nie. Ek het ook geleer om vrede te maak met dinge soos dit is.”

Kyk die agter-die-skerms-video: