Matriekafskeidrok van die Jaar 2017:

Chèrise Louw van die Hoërskool Strand

“Toe ek myself die eerste keer in die spieël sien, was my voete onder my uitgeslaan. So saam met die grimering en my hare gedoen (twee goed waaraan ek my nooit steur nie), het ek soos ’n totaal ander mens gevoel.” Die hoogtepunt was toe Chèrise en haar metgesel, Ruben Potgieter, in ’n pikswart Pontiac GTO by die matriekafskeid aankom. “Die oomblik toe ons uit die kar klim en op die rooi tapyt afstap, het die skare begin juig, want hulle het nooit gedink hulle sou my in ’n rok sien nie! “Ek dra nooit rokke nie, en as ek my sin gehad het, het ek opgedaag in jeans en ’n T-hemp. Maar ek is bitter bly Anene [Ferreira] kon my help en my droomrok maak.”

Om die oomblik en haar rok vir ewig vas te vang het Chèrise op ’n yskoue, mistige dag ’n tweede fotosessie op die strand saam met Astrid Papayannis van Ever, Ever Photography gehad. Wat hierdie fotosessie ekstra spesiaal maak, is hoe die kleur van haar rok teen die grou dag as agtergrond uitstaan. Vir Chèrise is dié ’n oomblik wat sy vir ewig sal koester. Nóú, meen dié rabbedoe, is sy reg om die lewe aan te vat. Maar eers wag ’n gap-jaar …

Sy's ons wenner want . . .

Die kleur is asemrowend en die styl pas haar soos ’n handskoen Die rok is stylvol, maar ook speels – ideaal vir ’n jong vrou Dis veelsydig, jy kan die rok met of sonder juweliersware dra en met jou hare los of in ’n op-styl, soos Chèrise hier wys

Amaria Carstens moderedakteur:

Rooi is vuurwarm; dit is vuurwerk. Jy kan maar net nie help om te staar in bewondering na iemand wat dié kleur dra nie. Chèrise het dít presies reggekry en haar rok ’n moderne aanslag gegee met die kombinasie van lae pienk onder die rooi. Sy het die rok met selfvertroue gedra en die vleiende bostuk met sy oorkruis-plooidetail laat jou twee keer kyk.

Fanié Cronjé styl- en sosiale redakteur:

Niks is mooier as ’n glansrok wat ’n jong vrou se jeugdigheid beklemtoon nie. Chèrise se rok was vloeiend en fleurig. En die rooi energiek en vol lewe, nes sy. Die rok het haar nie net beeldskoon laat lyk nie, maar het haar ook mooi laat vóél, en dit is altyd die geheim van ’n wenvoorkoms!

Klik hier vir die top-10