Iemand vir wie dié woorde ’n verskil gemaak het, was ’n 18-jarige matriekleerder aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. ’n Paar maande later is sy aangewys as die eerste SARIE Nuwe Gesig. Haar naam? Jonadrie van Aardt.

“Die JyIsGenoeg-hutsmerk het my beeld van myself en my perspektief oor ‘goed genoeg’ totaal en al verander,” onthou Jonadrie. Vir haar het die titel van SARIE Nuwe Gesig nie net geleenthede gebring nie, maar ook doelgerigtheid. Sy is vandag ’n gelukkige student aan die Isa Carstens Akademie op Stellenbosch, model vir Willem Botha se Kaapse MUD-grimeerwerksessies, en handelsmerkambassadeur vir Jadie Professionals, ’n haarstilis in Kaapstad en Bloemfontein.

“Mens voel nie noodwendig goed genoeg om in te skryf nie, maar dis die mooiste deel daarvan, die feit dat jy jou eie boodskap kan oordra en dat wie jy is meer as genoeg is,” sê sy. “SARIE laat elke vrou voel soos wat ons behoort te voel – net goed genoeg.”

Sy het gegroei in haar karakter en menswees danksy die kompetisie. “Alles gaan nie oor wen nie … dit het my regtig gehelp om as mens te groei en meer selfvertroue te hê.”

Die wedstryd, waarvan die groot prys is om op die voorblad van ’n handsakweergawe van SARIE te verskyn, was so suksesvol dat dit vanjaar ’n tweede keer gehou word. Die doel is om aan jong lesers tussen graad 10 en 12 die kans te gee om vir die wêreld ’n bietjie van hulself te vertel en te inspireer binne die veiligheid van die SARIE-gemeenskap.

Jy ís genoeg! Skryf in vir SARIE Nuwe Gesig en wys ons hoe jy daagliks dié mantra op jou unieke manier uitleef. Inskrywings is oop tot 10 Mei. In trotse samewerking met Isa Carstens. 

voorbladgesig; nuwe gesig; sarie; skryf in; sarie