Terwyl die wêreld in isolasie leef, is dit so maklik om jou ook emosioneel te isoleer.

Maar dit kan jou probleme net vererger. Bel jou mense, skype of zoom, stuur ’n boodskap, en práát. Dit laat ’n mens eerstens minder alleen voel wanneer jy oor jou probleme praat, sê Riette du Preez, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. “Verskeie studies het ook al gewys jy is beter in staat om jou liggaam se reaksie op stres te reguleer wanneer jy oor jou gevoelens praat. Opgekropte emosies, daarenteen, het dikwels fisieke gevolge soos spierspasmas, maagpyn en hoofpyn.”

Om oor jou gevoelens te praat kan jou boonop nader bring aan ’n oplossing, sê sy. “Die brein prioritiseer emosies bo hoër funksies soos logiese redenasie – dis ’n oorlewingsfunksie sodat jy dadelik op ’n bedreiging kan reageer. Dus moet jy eers jou emosies uitdruk en onder beheer kry voordat jy in staat sal wees om jou gedagtes te orden en aan oplossings te dink.

”Dis egter belangrik om jouself eers net toe te laat om jou emosies te voel, sonder om jouself te oordeel, en daaroor te praat sonder om ’n oplossing te verwag. “Daar hoef nie reeds ’n oplossing te wees voordat jy die emosies kan verwerk nie. Voel dit net eers en beweeg só daardeur.”

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam weet dít alte goed. Sy is vanjaar deur groot opdraandes en sê om te praat is lafenis vir die siel . . .

Melinda Bam deel haar storie

melinda bam
"Ek hoop as ek praat, sal ander in my posisie minder alleen voel," sê Melinda Bam. FOTO Mandy Stander

In Januarie vanjaar het Melinda uitgevind sy is vir die eerste keer swanger en kon dit skaars glo – sy en haar man, Adriaan Bergh, het maar in Desember besluit hulle wil met ’n gesin begin. “Ons was net so ongelooflik opgewonde! Dis ’n groot mallemeule van emosies as jy die dag uitvind jy is swanger.

”Maar toe hulle twee maande later vir ’n naweek weggaan, het sy besef iets skort. “Ek het begin bloei en geweet daar’s fout. Ons het teruggekom en ek het die dokter gaan sien. Dit was ’n miskraam.”

Sy sukkel om te praat terwyl die trane begin loop, want die seer lê maande later steeds vlak. “Ek was teen daardie tyd nege weke swanger. Dit klink dalk nie na lank nie, maar jy kan nie een verlies met ’n ander vergelyk nie – hoewel die fisieke trauma van ’n latere miskraam beslis erger is. Die feit is jy begin jou al verbeel hoe jou baba se gesiggie gaan lyk sodra jy hoor jy’s swanger. Jy dink aan daai vingertjies, toontjies. Adriaan het soggens begin vra hoe ‘julle’ geslaap het pleks van net ek. Dis jou kind, al het jy hom of haar nog nie ontmoet nie, en jy voel die verlies aan jou hele lyf.”

Sy het eers net Adriaan en haar familie in haar vertroue geneem, maar nou besluit sy wil in die media praat omdat so baie vroue deur dieselfde emosies worstel. “Dis eintlik so algemeen, maar niemand praat daaroor nie. En ek hoop as ek daaroor praat, sal vroue wat dit lees en daardeur is, minder alleen voel. Weet dis oukei om te treur, daardie emosies te voel, daaroor te gesels. Dis oukei om slegte dae te hê en ook om beter dae te hê.”

Haar wens is dat vroue sal ophou om mekaar so onder ’n vergrootglas te plaas. “Ek dink dis hoekom baie vroue eerder stilbly. Vroue is so krities oor ander vroue se besluite – of jy borsvoed of nie, natuurlik geboorte gee of nie, of jou kind al teen ’n sekere ouderdom stap. En ná ’n miskraam teister jou gedagtes jou. Jy wonder of jy iets verkeerd geëet het, te vinnig geloop het, verkeerd gelê het in jou slaap – al weet jy rasioneel jy kon niks daaraan doen nie. En om dan daaroor te praat en jouself bloot te stel aan kritiek is baie moeilik.”

melinda bam
Melinda Bam sê na haar miskraam het dit haar seer begin gesond maak toe sy práát. FOTO Mandy Stander

Maar tog het dit haar seer begin gesond maak toe sy práát. “Ek is nie die enigste vrou in my familie met wie dit al gebeur het nie, en wanneer jy jou swaar deel, maak dit daardie vroue se swaar ook wakker. Ons het saam sit en huil, maar dit het ons minder alleen laat voel. Dit was ’n groot verligting. En wanneer ek ’n slegte dag gehad het, het hulle geweet wat om te sê om my op te beur. Adriaan was my rots, al was dit vir hom ook net so ’n groot verlies. Hy is sterk wanneer ek nie is nie en het die Here se beloftes oor en oor vir my herhaal.”

Die pragfoto’s van hulle twee op dié blaaie is geneem net voordat sy uitgevind het sy’s swanger en sy kyk graag daarna op slegte dae. “Dit laat my altyd beter voel om te sien dat die mooi wat daar tussen ons twee was voor die swangerskap, steeds daar is. Ons was gelukkig voor die swangerskap, gelukkig tydens die swangerskap, en ons is steeds gelukkig by mekaar ten spyte van die verlies. Daar is goeie seisoene en swaar seisoene en dis alles deel van jou storie, jou karaktervorming. Maar die mooi bly altyd daar.”

Sy het nog nie die storie op sosiale media gedeel nie en weet ook nie of sy sal nie. “Ek is maar versigtig met wat ek daar van my lewe blootstel. SARIE voel soos ’n veilige plek, want die soort vrou wat die tydskrif lees, wil ander vroue opbeur; mense kan lelike dinge kwytraak op sosiale media. Ek het al geleer om my vel dik te maak daarvoor, maar dis moeilik wanneer ’n eina rou is. Sosiale media is ook ’n valse troos in daardie opsig – geen aantal likes gaan jou help om ’n traumatiese gebeurtenis te verwerk nie. Al hoe jy dit kan doen, is deur jou emosies te voel en daardeur te werk.”

melinda bam
"Weet dis oukei om te treur, daardie emosies te voel, daaroor te gesels," sê sy nou vir ander vroue. FOTO Mandy Stander

Daar is baie druk op bekendes om altyd positief te wees en so ander te inspireer. “Maar jy put tog nie inspirasie uit iemand wat net die goeie deel nie, want dit gaan met niemand net altyd goed nie. Bekendes se lewens is nie maanskyn en rose soos mense dit soms afmaak nie. Die noodlot tref nie onderskeid nie.”

Hulle wil beslis steeds met ’n gesin begin, maar gaan dit eers kans gee. “Ons eerste vraag aan die dokter was hoe lank ons moet wag, maar ons het gou besef alles sal in plek val. ’n Mens moet dit eers verwerk. En ek moes werk aan my vrees dat dit weer sal gebeur.Ons is nou sewe jaar getroud en het lank gewag en gebid om seker te wees ons is gereed om met ’n gesin te begin. Ons kan nog wag. En daardie dag gaan ’n wonderlike geskenk wees – ons oë is oopgemaak vir watter wonderwerk ’n nuwe lewe, en boonop ’n gesonde babatjie, regtig is.”