Moenie verbaas wees as jy kinders in die Ooste en Midde-Ooste met ’n Afrikaanse aksent hoor praat nie. “Ja-ja,” gooi hulle so tussendeur hul gesels.

Want soos wafferse ontdekkings-reisigers ruk Suid-Afrikaanse jonges (en nie sulke jonges) op na die lande van die Arabiese Nagte, Lawrence van Arabië en Marco Polo. Meestal om die plaaslike inwoners Engels, die lingua franca van die globale ekonomie, te leer. Met antieke kulture lynreg teengesteld aan ons s’n, maar bruisende ekonomieë, wink werkgeleenthede én #avontuur. Die sogenaamde “Doebai-generasie”.

In China tel die ekonomie kop op ná baie jare onder die kommunistiese juk. En waar daar met Mao Zedong se Kulturele Revolusie nie vinnig genoeg ontslae geraak kon word van als wat Westers is nie, gebeur die teenoorgestelde nou. In die Midde-Ooste is daar weer stinkryk woestyn-ekonomieë en geld vloei soos uhm . . . olie.

Nie so lank gelede nie was groot Westerse stede die trekpleister. Op soek na nuwe ervarings voor jy die verantwoordelikhede van die grootmenslewe aanpak. En om in die proses geld te verdien vir groot uitgawes soos ’n motor, dalk om studieskuld af te betaal. Nou is plekke soos Londen peperduur en werk skaars. Brittanje se werkvakansie-visum wat verval het, speel ook ’n rol. Daarmee kon jy tot twee jaar in Brittanje reis en werk.

Nuwe plekke het dus op #avontuur-lustiges se radar verskyn, sê Irene Toerien, bedryfsbestuurder van SA-Recruitment, wat gekwalifiseerd onderwysers werf vir die Midde-Ooste en China. Ook mense wat onderrig in Engels in ’n informele nie-skool-omgewing gee, is in aanvraag.

Suid-Afrikaanse onderwysers in byvoorbeeld die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) kry uitstekende vergoedingspakkette. Dit sluit in belastingvrye salarisse, gratis blyplek, vlugte en mediese dekking. Daar is wel sprake dat Suid-Afrikaners moontlik in die nabye toekoms in SA op dié vergoeding belas gaan word. Dié wat in China klas gee, betaal wel belasting daar, maar die salarisse is steeds aantreklik, volgens Irene.

Bennie Fourie, akteur, skrywer en regisseur, het sowat vier jaar gelede twee jaar in Suid-Korea skoolgehou: In die stad Jinju by ’n laerskool en in Ulsan by ’n kleuterskool. “Nie net kon ek my studieskuld afbetaal nie, ek het ook ’n deposito vir ’n kar gespaar en baie gereis.”

Sanet Boshoff het in 2015 by ’n taalsentrum in Linhai in die Zhejiang-provinsie, China, gaan werk. “In Suid-Afrikaanse terme is dit ’n groot stad, maar vir China ’n plattelandse dorpie. Jy werk hard by so ’n taalsentrum, vir min geld en geen vakansie nie. Maar dis ervaring en jy kry maklik werk. Jy leer Engels vir mense van alle ouderdomme, party kinders van net vier jaar oud.

“Ek is tans by ’n private internasionale kleuterskool in Hangzhou, Zhejiang. Dis ’n pragtige stad, met groot parke. Hier is talle Suid-Afrikaners en selfs ’n Suid-Afrikaanse WeChat-groep.”

Elke streek het sy eie uitdagings, reken Irene. Die meeste Suid-Afrikaners voel waarskynlik gemakliker in die Midde-Ooste as China. Dalk omdat dit soveel kleiner is, is die kans beter dat jy in ander buitelanders vasloop.

By haar aankoms in China het dit vir Sanet inderdaad soos ’n ander planeet gevoel. Hul gewoontes, bygelowe en idees oor die lewe, gesondheid en werk was (binne haar verwysingsraamwerk) vréémd. “Linhai se inwoners is nie juis gewoond aan buitelanders nie en omdat ek lank (1,82 m) met blou oë is, was ek ’n rariteit.

Hulle het my aangestaar, sommige het geskrik, feitlik almal het foto’s geneem en ’n vrou het eenkeer in die supermark my arm gestreel. Sy het seker nog nooit so baie armhare en sproete gesien nie!”

Bennie vertel hoe vreemd en alleen hy aanvanklik in Jinju was. Dis ’n klein stad, byna meer soos ’n dorp, in die suide van Korea en jy verstaan uiteraard nie hul taal nie. “My kos-fiemies was egter die grootste aanpassing. Ek het byvoorbeeld nie juis groente geëet nie, maar gou besef ek gaan als móét eet. En hul kos só begin geniet dat ek dit nou crave. My ma se lewe sou makliker gewees het as ek jare gelede al in Korea was.”

Jy “raap” klein goedjies op en maak dit sonder dink jou eie, sê Wynand Olivier. Nie ’n yskoue glas water vir die Chinese nie, nee, hulle drink dit warm. “Ek het dit aangeleer. Veral wanneer ek siekerig voel, drink ek louwarm water. En ja, ek los my skoene by die voordeur as ek die huis instap. Ook wanneer ek met vakansie is in Suid-Afrika.”

Die Suid-Afrikaners bring hul kultuur saam na die vreemde land met braaidae en sokkiekonserte tot die verkoop van melkterte. Laasgenoemde op die oog af gewild veral in die Midde-Ooste, sê Irene.

Quintin Oosthuizen is reeds sedert 2003 in Taiwan en gee tans Engels by ’n private skool. Hy verkoop ook boere- en droëwors en biltong. “Dis meestal buitelanders wat belangstel. Maar ons begin ook aan Taiwannese verkoop en verduidelik hoe dit gebraai word. Ook hoe jy pap en sous maak.” Die plaaslike inwoners is mal oor “glamping”. Want oral is elektrisiteit en kampplekke is luuks, 4- en 5-ster.

Volgens Irene kom die meeste van dié “Marco Polo’s” huis toe nadat hul kontrak verstryk het (twee jaar vir onderwysers en ’n jaar as jy informeel Engels gee). Jy keer terug met waarde-volle lewenservarings, ’n nuwe uitkyk op die lewe en jou eie drome en begeertes.

Deidré Schoeman, wat in Doebai was, sê: “Jy raak moeg van koop [waarvoor dié plek bekend is] en wil huis toe, verlang na ons inheemse kulture, om ’n spazawinkel te sien!

Ons Suid-Afrikaners is uniek, al baklei ons ook baie onder mekaar. Die heel beste was toe ek by die Oliver Tambo-lughawe uitstap en ’n straatverkoper met lekkergoed sien. Ek kon haar druk, dit was die mooiste gesig. ‘I missed you,’ sê ek toe sommer spontaan.

Kontak SA-Recruitment by 021 100 3145, www.sa-recruitment.com

Lees verskillende mense se uiteenlopende ervarings hier:

Deidre uit Doebai: "Die begrotings slaan jou asem weg"

Trudi uit Katar: "Dis net beton en sand"

Wynand Olivier gee drama in Beijing