Toyota sit tans voet in die hoek om sy modelreeks te verfris en uit te brei. Die afgelope paar maande het ’n rits nuwe modelle hul verskynings in Toyota se vertoonlokale gemaak. Boonop is dié nuwelinge so geposisioneer dat hulle aantreklik is vir ’n verskeidenheid van moontlike kopers in verskillende segmente. Vier van dié Toyotas, wat ek onlangs onder hande gehad het, is die Agya, Starlet, Corolla en die Fortuner.

Toyota Agya

FOTO Verskaf

Die Agya is ’n nuwe intreevlakvegter vir Toyota en vervang die Aygo en moet die stryd aansê teen gedugte mededingers soos die Suzuki Ignis, Hyundai Atos, Kia Picanto en Volkswagen Up. Dit beteken die Agya se werk is vir hom uitgeknip! Maar Toyota is altyd gerat vir ‘n uitdaging… Het die Agya egter die regte ammunisie om ’n goeie stryd te voer? Standaard-eienskappe sluit in kragstuur, luverkoeling, sluitsluitweerremme, twee voorste lugsakke en allooiwiele. Ongelukkig is ‘n raakskerm-multimediastelsel Apple CarPlay en Android Auto funksionaliteit opsioneel, maar dit bied darem ’n standaard stelsel wat ook Bluetooth het vir handvrye selfoonoproepe. Onder die enjinkap is ’n wakker driesilinder-petrolenjin met ’n gemiddelde brandstofverbruik van 4,8 liter/100 km wat beteken jy behoort sowat 650 km op ’n 33 liter-tenk te ry. Die Agya is ’n buksie wat uitstaan danksy ’n sportiewe voorkoms, maar dit lyk dalk bietjie te wild vir party mense. Hoewel die Agya ’n aanloklike pakket is, is sy prys dalk bietjie te hoog vir wat jy kry, want van sy mededingers bied beter waarde vir geld.

Prys: Begin by R178 600

Toyota Starlet

(Photo by Cornel van Heerden) www.cornelvanheerden
FOTO Cornel van Heerden

’n Opkomende ster vir Toyota is sy nuwe Starlet en verkoopsyfers wys dat Toyota amper nie kan voorbly met bestellings vir dié ruim luikrug nie. Die Starlet vervaardig Toyota in oorleg met Suzuki – so as dit vir jou ietwat bekend lyk, sal dit wees oor dit op Suzuki se Baleno gebasseer is. Anders as die Agya, wat waarskynlik in ’n opdraende stryd gewikkel gaan wees weens sy prys, is die Starlet amper perfek geposioneer. Ja, dit bied regtig goeie waarde vir geld as jy dit met mededingers soos die VW Polo Vivo en ook dan die Baleno vergelyk. Ons toetsmodel was die luukser XR-weergawe wat ’n lang lys indrukwekkende standaardkenmerke bied. Só is daar ’n truratkamera, sleutellose toegang en -aanskakeling, elektriese venster, lugversorging en goeie inligtingvermaak via ’n netjiese ingeboude sentrale multi-inligtingskerm. Aandrywing is met die komplimente van ’n bevoegde 1,4-liter- viersilinder-petrolenjin wat redelike kraglewering bied sodat die Starlet ligvoets en rats is. Branstofverbruik behoort ook goed te wees. Die Starlet is sonder twyfel ’n slim kopie as jy in die mark is vir ’n ruim gesinsryding wat beloof om jare se getroue diens te bied, want dit is ook goed aanmekaar gesit.

Prys: Begin by R209 000.

Toyota Corolla

FOTO Verskaf

Toyota se staatmaker vir dekades al is die Corolla en die nuutste model is regtig indrukwekkend. En dan is dit boonop sexy! Ja, wie sou ooit kon dink dat daar na ‘n Corolla as “sexy” verwys sou word! Maar dit is regtig die geval met die nuwe Corolla, want dit het ’n verruklike ontwerp wat die koppe behoorlik laat draai. Na ek die top-XR-model, met ‘n outo-ratkas, toetsbestuur het, was dit duidelik soos daglig dat die Corolla ’n uitblinker is. Binnelangs beïndruk die Corolla ook en jy kan dalk net dink dit is eintlik ’n Lexus, want dit is luuks, modern en sportief. Die spesifikasievlak is regtig indrukwekkend met ? magdom kenmerke en ’n lang lys van die nuutste veiligheidstelsels. Op die pad laat die Corolla jou ook nie in die steek nie met ‘n gladde en soepel rit. De 2,0-liter petrolenjin bied 125 kW se krag en 200 Nm se wringkrag, wat dit in staat stel om 0–100 km/h in agt sekondes kaf te draf. Hoewel sedans se gewildheid besig is om te taan, ten gunste van sportnutse, mag die smeulende Corolla dalk net motorkopers verlei.

Prys: Begin by R387 800

Toyota Fortuner

FOTO Verskaf

Toyota se Fortuner verkoop seder die eerste generasie se bekendstelling in 2006 soos soetkoek en is vandag een van Suid-Afrika se gewildste voertuie. Ja, die sukses van die Fortuner kan toegeskryf word aan talle faktore soos dié sportnuts se veelsydigheid, gerief, grootte, plek vir sewe passasiers, goeie enjinopsies, en bougehalte. (En dit is maar net om ’n paar te noem!) Toyota het laat in 2020 die tweede-geslag Fortuner opgekikker met ’n gesigsontrimpeling om dit ’n vars voorkoms te gee. Terselfdertyd het Toyota die binneruim ook vernuwe en spog dit nou onder meer met swart leerbekleedsel – pleks van die donkerbruin kleur van sy voorganger wat nogal kritiek uitgelok het. Maar die Fortuner se opknapping is nie net oppervlakkig van aard nie, want Toyota het ’n paar meganiese veranderings ook aangebring. Só is die reeds indrukwekkende 2,8 GD-6 kragbron verder verbeter met nuwe turbo’s, ? balanseringstaaf en ? paar ander verfynings. Dié dieselenjin skop nou ‘n allemintige 150 kW en 500 Nm uit, wat die Fortuner nou ’n nóg beter sleepvoertuig maak. Die Fortuner is ’n ruim voertuig wat genoeg plek bied vir ’n groot gesin, maar wat wel teen die voertuig tel, is die op- en afslaan van die derde ry sitplekke. In hul opgeslane posisie aan weerskante van die bagasieruim benadeel dit die laaispasie en sou mens eerder ’n stelsel (soos sy aartsvyand, die Ford Everest)) waar die ekstra sitplekke in die vloer wegvou beter gewees het.

Prys: Begin by R581 000.