Ons het onlangs die kragtige topmodel, die T6-weergawe met die parmantige R-ontwerp-pakket, toetsbestuur. Agt goed wat ons beïndruk het:

1. Die XC60 se elegante ontwerp laat dié sportnutsvoertuig uittroon bo mededingers soos die Mercedes GLC, Audi Q5 en Lexus NX.  

2. Daar is ’n rits slim en moderne veiligheidskenmerke wat gemoedsrus gee soos min ander motors.

3. Binnelangs is die afwerking luuks, maar sonder om oordadig te wees – dis ’n toonbeeld van Sweedse elegansie. Terselfdertyd is alles binnelangs ook funsioneel.

4. Al die passasiers geniet meer as genoeg ruimte, terwyl die kattebak redelik groot is.

5. Dit is maklik om die vertikale tabletvormige raakskerm, waarmee jy die klankstelsel en ander nutsfunksies beheer, baas te raak.

6. Die agterklap maak met ’n druk van ’n knoppie op die sleutel outomaties oop.

7. Die T6 is ’n verrigtingsmodel wat ’n sportiewe flair het. Die 2,0 liter-petrolenjin het ’n super- en turbo-aanjaer wat ’n allemintige 235 kW se krag uitskop en 0-100 km/h in ’n blitsige sowat 6,5 sekondes kafdraf.

8. Op die pad voel die XC60, wat ook permanente vierwielaandrywing het, stewig, die rit is gemaklik en die stuur akkuraat.

Die prys vir die XC60 T6 begin by R888 650

Lees ook Wilmer se vorige Ry-indruk:

Ry-indruk: Suzuki Vitara

Ek het self nog altyd vertroue in Suzuki en het al deur die jare die geleentheid gehad om oor lang periodes hul voertuie te ry. Onlangs kon ek kennis maak met die nuutste weergawe van die Vitara, wat in 2019 ’n gesigsontrimpeling gehad het en boonop turbokrag onder die enjinkap gekry het. My toetsmodel was die 1,4 GLX-weergawe. Vir meer klik hier.

Ry-indruk: BMW se nuutste 1-reeks

BMW het groot hoop vir sy nuutste 1-reeks wat einde 2019 plaaslik bekend gestel is, want dit is beter, sportiewer en luukser as tevore – terwyl dit uiteindelik lyk asof dié luikrug se ontwerp meer smaakvol is.