Een van die bekendste rygoed in Suid-Afrika is sekerlik die Volkswagen Kombi wat sedert die 1950’s al getroue diens hier as ‘n mensekarweier doen. Daar is talle gesinne wat graag geliefde staaltjies deel oor die “Volksiebus”, soos dit in die volksmond bekendstaan.

Ons het onlangs die jongste weergawe van die Kombi, wat Volkswagen die Transporter noem, in Trendline-gedaante toetsbestuur.  Volkswagen het ook die huidige Kombi ‘n rukkie terug botoks-behandeling gegee sodat dit bietjie varser lyk.

Die hedendaagse Kombi is steeds ‘n onopgesmukte voertuig wat hom goed van sy taak kwyt. En al het Volkswagen die Kombi baie moderniseer, is die oorspronlike DNS van sy voorgangers steeds teenwoordig: dit is ruim, gerieflik, goed aanmekaar gesit en ’n betroubare reisgenoot.

Die Trendline is wel die intreevlak model, maar dit beskik oor al die nodige geriefskenmerke – wel, dit moet, want teen amper ‘n kwartmiljoenrand is dié Kombi nie noodwendig vir Jan Alleman se beursie beskore nie.

Toerusting sluit onder meer in lugreëling, elektriese vensters, elkektriese verstelbare kantspieëls, kragstuur, kruisbeheer, kruiswindhulp, twee USB-poorte voor, Android Auto, Apple CarPlay, Bluetooth, USB-sokke ’n 12-volt-punt, banddruk-monitors en parkeerhulp met ’n trukamera. Vir veiliheid maak die Kombi staat op kenmerke soos ABS-remme met stabiliteit- en traksiebeheer asook elektroniese ewenaarsluiting en daar is twee lugsakke vir voorste passasiers.

FOTO Verskaf

Die Kombi se grootste aantrekkingskrag, wat ook sy bestaansreg is, is natuurlik die ruimte wat dit bied. Teen amper vyf meter lank, is dit ’n groot ryding met sitplek vir agt, met die twee voorste passiers wat hulself kan tuismaak in hoogteverstelbare kapteinstoele met armrusse. Tipies Kombi is daar groterige gang tussen dié wee sitplekk vir vrye beweging tussen na die middelste ry sitplekke. In die agterkajuit daar natuurlik meer as genoeg bêre- en pakplek, selfs onder die sitplekke. En wanneer jy die spasie benodig kan jy selfs die middelste en agterste bank uithaal – dit is egter nie ’n taak vir net een persoon nie. 

Daar is ’n glydeur aan elke kant wat lig en maklik oop en toe maak. 

Aandrywing geskied deur Volkswagen se 2,0 viersilinderturbodieselenjin wat 110 kW se krag en 340 Nm wringkrag bied. Dié krag word via  ? seepgladde sewespoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas na die voorwiele gestuur en die Kombi is tot ‘n topspoed van 172 km/h in staat. Ondanks sy groot lyf, is brandstofverbruik ook nogal goed en is gemiddelde syfer sowat 8,0 tot 8,3 liter per 100 km.

FOTO Verskaf

Die Kombi se rit was nog altyd ook ‘n sterk punt en dit is nou beter as ooit. Ongeag dat dit eintlik nogal ‘n lomp ryding is, voel die Kombi ligvoetig en gebeur versnelling moeiteloos. Diegene wat Kombis besit of al gery het, sal vir jou sommer uit die staanspoor vertel oor hoe lekker dit is om te bestuur!

Met sportnutsvoertuie wat deesdae voorkeur geniet as gesinsrydinge, is die Kombi se gewildheid besig om te taan. Boonop is dit nie goedkoop nie, terwyl mededigners soos Hyundai se H1 waarskynlik beter waarde vir geld bied. Andersins stel die Kombi nie teleur nie en dit is ’n staatmaker-voertuig, wat waarskynlik jare se getroue diens sal lewer.

Pryse begin by: R728 700