Eers stry ek met myself. Dan gaan haal ek my selfoon, klem dit in albei hande vas, sê naderhand: “Hou dit net normaal vas, Carmen, jy gaan dit laat val!”

Ek is op Anse Source d’Argent, glo die strand wat die meeste ter wêreld afgeneem word. En ek dra behóórlik hiertoe by. Twee tree die see in het ’n paar vlermuisvisse om my bene begin draai. Dié eens-in-’n-leeftydgebeurtenis móét vasgelê word, redeneer ek – al waag ek nou met my foon in die water.

My medestrandgangers het seker dadelik gesnap ek is nuut hier, want later die dag het ’n eenvoudige Google Image Search bevestig dat hierdie visse ’n algemene gesig in die waters van die Seychelle is.

Tog, dié aand slaap ek saliger as ooit, want ek weet: Hierdie visse het my´ gekies, die hele ervaring is ’n bevestiging dat ek een met die natuur is. Ek is van die aarde en in ritme daarmee, presies wat ek tydens my besoek aan die tropiese eilandgroep wou ervaar. Hoe kon ek toe weet ek sou tydens my verblyf keer op keer met dié gewaarwording geseën word. SARIE is op uitnodiging van Air Seychelles en die Seychelletoerismeraad vir sewe dae in die land.

In die “Jaar van die Pandemie”, soos 2020 seker altyd bekend sal staan, wil hulle vir ons kom wys watter planne in plek is om toeriste terug te verwelkom. En sjoe, die planne ís in plek. Ten tyde van ons besoek was daar slegs drie aktiewe Covid-19-gevalle in die land, danksy  streng protokolle. En in Januarie sou die Seychelle die eerste Afrikaland word wat met ’n inentingsprogram vir al sy burgers begin.

FOTO Maxine February

Soos die coronavirus die foute in die samelewing uitgewys het, het dit ook die mooi beklemtoon. Dis ’n besonderse ervaring om ’n land te besoek wat hul natuurskoon vier, alles in die stryd werp om dit te bewaar (plastieksakke word byvoorbeeld verbied) en ja, graag daarmee spog.

Geen masker kan die Seychellese se trots verbloem nie. Dit stráál. Dié dat ons so besig is. My eilanddrome is sonder twyfel gevoed deur flieks en Instagram: Met ’n sonhoed in die hand en ’n pikswart sonbril op die kop sou ek arriveer, my linne-uitrusting wapperend in die wind. Ek sou my dae op die naaste strand deurbring terwyl ek lees/slaap/ ’n skemerkelkie geniet en nooit my swembroek uittrek nie. Die ontblote dakbalke en oop ingangsportaal van die internasionale lughawe naby die hoofstad, Victoria, pas perfek in by die prentjie, maar ek kom vinnig aarde toe. My sonhoed is nou ’n waaier teen die hitte en my uitrusting sit glad nie soos dit moet vir ’n Instagram-kiekie nie. Die reisplan sit aktiwiteite uiteen wat wissel van fietsry tot bergklim. Kyk jy om jou, voel alles so bekénd. Die mense, die geboue, daar is selfs ’n Absa-kitsbank. Ek moet myself herinner dat ek aan die kus van Afrika is, mos my kontinent ook.

Die Seychelle bestaan uit 115 eilande en ons bly oor op die drie grootstes en  bekendstes: Mahé (die hoofeiland), Praslin en La Digue. Mahé, waarop Victoria geleë is, is jou wegspringplek. Van hier kan jy per boot, vliegtuig of helikopter na enige van die ander eilande reis. Om jou is digte tropiese woude met die Morne Seychellois, op 905 meter die hoogste bergpiek, wat oor jou waak.

Ons pak die Copolia-staproete aan, ’n maklike, uur lange roete vir stappers van enige ouderdom en fi ksheidsvlak. Steve Denis, ons gids, is kaalvoet, want die grond is klam en lê vol blare. Hy het in die woud grootgeword. Soos ons deur sy kleintyd-speelplek loop, stop hy kort-kort om sy insekmaats onder die klippe te soek.

Sonsopkoms op Praslin vanaf die strand voor die hotel Le Duc de Praslin. FOTO Carmen Botma

Dan beland ons op ’n granietkrans van waar ons die hele Victoria – een van die kleinste hoofstede ter wêreld – kan sien. Agter ons is net woud. Jy wonder wat tussen die boomtakke skuil, maar Steve stel ons gerus dat die woude geen wilde diere (behalwe vrugtevlermuise en tenreks – ’n soort krimpvarkie) huisves nie. “In hierdie woude is jy veilig. Besef net hoe klein en jonk jy langs hierdie boom is,” herinner hy ons.

Dan water toe, die Seychellese se ander groot speelplek. Hier ontmoet ons Michael Moncherry, ’n ware karakter wat sy bors al verder uitstoot wanneer ons hom kaptein noem. Aan die stuur van die Dolphin Nemo Glass Bottom Boat neem Kaptein Michael ons om te gaan snorkel, my eerste keer. Ons is in die Sainte Anne  uit ses eilande noordoos van Mahé, en Michael stop gereeld om medeseevaarders te groet; hy ken duidelik almal.

So mooi soos wat dit bo die water is, kan jy nie glo wat onder die water wag nie. Visse klein en groot, enkel en in skole, in elke kleur, koraalriwwe, alles omgeef van louwarm turkoois water.

The Mission Lodge, Mahe. FOTO Carmen Botma

Ná middagete op die Moyenneeiland, die kleinste natuurreservaat in die wêreld, is ons met ons snorkels terug in die see. Michael gly deur die water soos hy skulpe uitwys, en toe, nóg ’n word-een-met-die-natuur-oomblik: ’n seeskilpad. Asof uit nêrens is die dier voor ons, rustig aan die swem sodat ons hom met gemak kan agtervolg.

Sy bene beweeg stadig op en af en jou asemhaling neem vanself dié ritme aan. Jy voel hoe jou hart kalmeer. Op die Cerf-eiland kry ons padkos. Ons kaptein tel kokosneute op en sny dit behendig oop sodat ons met rooigebrande rûe vars klapper kan eet en klappermelk drink. Hy maak seker  ons mis geen eilandervaring nie.

“Dís die Seychelle-manier van doen,” sê Danielle Narty, ons gasvrou by Le Duc de Praslin, ’n hotel op die eiland Praslin. Sy is trots daarop dat die Kreoolse erfenis – dis regeringsbeleid om die kultuur te koester – bewaar gebly het. Danielle grap en sê hulle ken al 8 600 inwoners van die eiland, oftewel, almal ken meneer Robert Payet, die eienaar. Hom sien jy gereeld doenig by die hotel en hy kuier elke aand saam met die gaste. Sy pa en ma het Le Duc as ’n gastehuis begin en hy beywer hom om dit ’n bekostigbare viersterbestemming te maak. Al sy werknemers is Seychellese en hy borg tot ’n plaaslike sokkerspan. Le Duc kyk uit op die Côte d’Orstrand en is idillies. Jy sien kinders op swaaie onder palmbome met die kalm see daaragter en raak lus om die roeispaan op te tel en na ’n eiland in die verte te roei. Of by die eilandstyl restaurantkroeg lafenis te gaan soek.

Die hawe op Eden Island, Mahe. FOTO Carmen Botma

Interessante feite

* Die Seychelle is ’n argipel van 115 eilande in die Indiese Oseaan. Net sowat 40 eilande word bewoon.

* Dis nog ’n “jong” land: Franse kolonialiste het eers teen die einde van die 18de eeu op die voorheen onbewoonde eilande kom woon. Saam met die Franse, en later Britse kolonialite, het slawe uit verskeie dele van Afrika en Indië gekom, wat tot die Kreoolse kultuur sou lei. In 1976 het die Seychelle onafhanklik geword.

* Die Seychelle het ’n bevolking van minder as 100 000 mense, wat dit die kleinste onafhanklike land in Afrika maak.

* Engels, Frans en Kreools is die amptelike tale. Kreools word die meeste gepraat, maar inwoners verstaan ook Engels.

* Tradisionele kosse sluit in vars gebraaide vis, seekoskerrie, lensies en slaai met fyngekapte vrugte, speserye en klapper. En die nagereg? Mango- of vanieljesorbet!

* Die Seychelle is een van die organisasie Conservation International se 36 internasionale brandpunte van biodiversiteit. Hierdie plekke strek oor slegs 2,4% van die aarde se grondoppervlak, maar bevat 60% van die planeet se bedreigde plant- en dierespesies.


* Jy sien geen internasionale klerewinkels of eetplekke in die Seychelle nie. Daar is wel splinternuwe Absa-takke en -kitsbanke reg oor die eilande versprei en op Eden, ’n mensgemaakte eiland op Mahé, sien jy selfs ’n Spar. Matalan, ’n Britse klere-en-huisware-winkel, het in November sy deure in Victoria oopgemaak.

* Noem die naam Alphonse vir ’n visvang-entoesias en sy hart sal sing. Dié atol (ringeiland) is wêreldbekend vir vlieghengel en visvang-ekspedisies.

* In 1962 is die Moyenne-eiland teen £8 000 deur ’n Britse koerantredakteur, Brendon Grimshaw, gekoop. Vanaf 1972 het hy op die verlate eiland gaan woon en saam met ’n Seychellees, René Lafortune, 16 000 bome aangeplant en 120 reuse-landskilpaaie na die eiland geneem. Dié bewaringsinisiatief (lees meer in sy boek A Grain of Sand: The Story of One Man and an Island) is uiteindelik in 2008 beloon toe die eiland tot nasionale park verklaar is.

* Die vroulike coco de mer-blom het slegs 36 uur om deur ’n manlike plant bestuif te word. Die saad ontkiem eers ná 2 jaar en dit duur 7 jaar voordat die vrugte (neute) ryp word en nog 25 jaar om ’n volwasse boom te word. Die vroulike neut weeg tussen 15 kg en 30 kg en word streng bewaar. Geen mens mag die neute skuif of optel sonder ’n lisensie nie. Neute wat te koop aangebied word, het almal ’n plakker op wat dit as wettig sertifiseer.

* Die stilste seisoen is gewoonlik vroeg in Desember tot Kersfees. Wees op die uitkyk vir enige spesiale aanbiedings in hierdie tyd!