Maskara bly daardie een moet-hê-produk wat jou voorkoms in ’n japtrap opkikker. En oor die sewe dekades (SARIE word in Julie 72!) het dit die toets van tyd deurstaan. 

TOE

English model Twiggy, originally Lesley Hornby, in
Die Britse model Twiggy. FOTO Getty Images / Gallo Images

Gaan jy deur SARIE se argief, is dit duidelik dat maskara se gewildheid nog nooit getaan het nie – daar is regtig al boekdele geskryf oor dié towerstaf wat jou oë definisie gee, vergroot en verhelder. Gitswart maskara op jou wimpers kontrasteer met die wit van jou oë en skep só die illusie van groter oë. Die eerste “maskara” vergelykbaar met vandag se produk, het uit ’n mengsel van steenkoolpoeier en petroleumjellie bestaan.

Later is die steenkoolpoeier met seep gemeng en as ’n soliede blokkie grimering met ’n borseltjie verkoop. Dit was ’n morsige, ingewikkelde storie om dié maskara aan te wend, maar vroue was nietemin vasberade om die glansryke wimpers van die ou Hollywood-aktrises na te boots. Eers in die laat jare vyftig het die eerste vloeibare maskara in ’n buisie die lig gesien.

NOU

PARIS, FRANCE - OCTOBER 01: Kiersey Clemons attend
Die aktrise Kiersey Clemons. FOTO Getty Images / Gallo Images

Moderne maskara verrig wonderwerke, want met slegs een produk kan jy kort wimpers verleng, reguit wimpers krul en yl wimpers definisie en volume gee.

Vir gedefinieerde wimpers met trefkrag, wend drie lae aan en maak seker elke haartjie word van wortel tot punt behoorlik met maskara bedek. Plaas die maskaraborsel so na as moontlik aan jou wimperlyn en wikkel dit effens deur jou wimpers terwyl jy die borsel deurtrek om die haartjies van mekaar te skei en elkeen met maskara te bedek. Wimperbasislae en -serums maak ook ’n groot verskil.

’n Wimperbasislaag laat elke haartjie dikker lyk, terwyl ’n wimperserum aktiewe bestanddele bevat wat die haartjies versterk en vog inseël sodat dit nie maklik breek nie.

3 luukse maskaras

FOTO Unsplash

1. Die borsel van Benefit They’re Real! Magnet Mascara (R460) is magneties gelaai sodat die formule jou wimpers “trek” en hulle só langer lyk. By Edgars, Edgars Beauty en Superbalist.

2.  ’n Voedende serum, basislaag én maskara in een slim formule – RapidGlam Lash Enhancing Mascara (R750). By Sorbet en uitsoeksalonne.

3. Die veganistiese Ere Perez Avocado Waterproof Mascara (R500) bevat avokado-olie en is geskik vir dié met sensitiewe oë. Aanlyn by strl.shop