’n Natuurlike, stralende vel is hoogmode in die skoonheidswêreld. Die "glas"-vel trend het al verlede jaar beïnvloed hoe ons ons algehele grimeervoorkoms benader sodat ons gelaat vlekkeloos en glansend lyk asof dit lig soos glas reflekteer.

Die sleutel agter die voorkoms is nie net deurlopende goeie velsorg nie, maar óók om die regte onderlaag en verligter te gebruik om jou vel waarlik glans te gee. 

Die roetine is eenvoudig, eers berei jy jou vel voor met jou velsorgprodukte, dan onderlaag en daarna verligter. Maar volgens Nikki DeRoest, ’n grimeerkunstenaar en haarstilis wat bekendes soos Hailey Bieber en Rosie Huntington-Whiteley op hul beste laat lyk, moet ons dié roetine effens verander.

Nikki sê die truuk is om "pre-highlighting" toe te pas. 

Wat is "pre-highlighting"?

Die tegniek verseker dat jou vel op ’n natuurlike wyse treffend straal. Dit behels dat jy jou verligter vóór jou onderlaag aanwend sowel as die res van jou grimering. Nikki sê begin met ’n goeie bevogtiger en vryf dan ’n vloeibare verligter op jou wangbene, voorkop, neus en effens op jou ken in. 

Verligters bevat pigment wat lig reflekteer. Daarna kan jy jou onderlaag en verbloemer aanwend. Moenie jou onderlaag te dik aanwend nie, dis belangrik dat die verligter steeds sigbaar is en ’n egalige, natuurlike glans met behulp van so bietjie onderlaag skep.

Probeer die produkte:

1. Wet n Wild Megaglo Liquid Highlighter Goddess Glow (R120)

2. Benefit High Beam Liquid Highlighter (R395) 

3. NYX Born To Glow Liquid Illuminator (R150)

4. The Body Shop Illuminating Lustre Finish Creator (R310)

5. Revlon Photoready Rose Glow Hydrating + Illuminating Powder (R249)

Bron: www.refinery.com