Deesdae is daar al hoe meer bekendes wat ons ’n kykie in hul grimeerroetines gee met interessante en speelse stap-vir-stap videos. Ons is mal daaroor, want ons leer dikwels ’n slim truuk of twee by hulle.
In ’n video vir die Amerikaanse Vogue wys die model Kendall Jenner haar daaglikse grimeerroetine. En dit neem haar skaars twee minute om dit te doen. Sy wys dat jy nie ’n magdom grimeerprodukte nodig het om mooi te lyk nie.
Nadat sy onderlaag en ’n tikkie verbloemer aangewend het, en haar wenkbroue ingevul en netjies gekam het, vertel sy dat haar gunsteling-produk verbronser is. Sy gebruik dit om haar en haar bekende susters se kenmerkende sonbruin gelaat te skep. Sy skakeer haar verbronser met ’n groot ronde grimeerborsel onder haar wangbene en liggies in haar nek en onder haar ken. Dan vat sy ’n oogskaduborsel en wend sommer ook van die verbronser aan haar ooglede. Sy rond haar voorkoms af met maskara en ’n neutrale skakering lipglans.
Kyk hiér na die video:
Ons dink dis die perfekte min-moeite grimeervoorkoms vir die komende somermaande. Boonop is ’n uitgewaste blink skakering op jou oë nou hoogmode en help om jou oë oop en helder te laat lyk.
Alles-in-een-grimering
Ons begin al hoe meer sien hoe bekendes en skoonheidsliefhebbers grimeerreëls breek en sommer een produk oor hul hele gesig gebruik. Selfs skoonheidshuise begin nou om alles-in-een-grimeerprodukte bekend te stel waarmee jy byna jou hele gesig kan grimeer.
#1 Volg in Kendall se spore en gebruik verbronser om jou vel ’n songloed te gee en as subtiele blink op jou oë.
#2 ’n Helder pienk roomblosser kan jy op jou wange, lippe én ooglede gebruik vir ’n bloesende voorkoms. Die model Miranda Kerr het haarself vir haar troudag in Julie vanjaar só grimeer.
#3 ’n Bruin oogomlynerpotlood wat jy teen jou boonste wimperlyn aanwend en dan smeer (smudge) skep subtiele rokerige oë en kan ook as wenkbrou-potlood ingespan word.
#4 ’n Koraalkleurige lipstiffie is in die kol vir die somer en kan ook as blos gebruik word.
#5 Kyk uit vir ’n bevogtigende basislaag, onderlaag of BB-room met ’n SBF om jou vel te bevog en bedek en dit teen die son te beskerm.
Die Australiese model Miranda Kerr het vir haar troudag in Julie blos op haar wange en ooglede gebruik vir ’n bloesende voorkoms.
Hiér is van ons gunsteling-veeldoelige produkte:
1. Clarins Bronzing Duo SPF 15 (R460)
Vee jou grimeerborsel oor altwee skakerings vir ’n sonbruin gloed wat natuurlik lyk.
2. Yves Saint Laurent Babydoll Kiss & Blush (R769)
Die produk gee die mooiste kleur aan jou lippe én wange. By YSL Beauté Boutique in Sandton City in Johannesburg
3. Max Factor Eyefinity Smoky Eye Pencil in Black Onyx (R136)
Die nuwe oogpotlood bevat twee skakerings, ’n donker bruin en ’n koper kleur. Smeer dit effens met jou vingers vir ’n ingeleefde voorkoms. By Clicks
4. Revlon Ultra HD Gel Lipcolor in HD Coral (R195)
Die jelformule gly maklik aan jou lippe aan. Tik dit ook op jou wange vir ‘n gesonde gloed.
5. Smashbox Photo Finish Primerizer (R545)
Vervang sommer jou vogroom met die basislaag en vogroom in een. Dit bevat hialuronsuur en vitamien B3 om jou vel goed te bevog en laat jou grimering heeldag hou.