Die streng beperkings wat as gevolg van die Covid-19-pandemie in plek gestel is, het ons alledaagse lewe vir eers ingrypend verander. Ons raak skoon opgewonde en sit so bietjie grimering aan as ons kosinkopies moet gaan doen. Vir baie van ons is dit van die min kere wat ons die huis verlaat.
Hiermee saam is maskerdra onvermydelik en nou al vir ’n paar maande deel van ons nuwe normaal. Ons sê moenie laat hierdie vreemde tye jou ontmoedig en verveel nie. Trek mooi aan en sit treffende grimering aan, al is dit net om gou winkels toe te gaan.
Boonop is ons onseker oor hoe lank die pandemie nog ons lewe gaan beïnvloed en daarom moet ons die beste van elke dag maak en voluit leef.
Die grimeerkunstenaar Keita Moore het in ’n onderhoud met The New York Times verduidelik dat grimering óf meer prakties gaan wees, dink aan natuurlike wenkbroue en lang wimpers. Maar vir baie van ons sal grimering ’n wonderlike ontvlugting wees. Die geleentheid om te speel en te eksperimenteer. “Dis ’n vreesaanjaende tyd, so dis tyd om meer te droom.”
Onthou ...
Onderlaag en jou masker
Aangesien die grootste gedeelte van ons gesig met ’n masker bedek word, hoef jy nie baie onderlaag te dra nie. Dra net so bietjie verbloemer onder jou oë en net daar waar jy ’n merkie wil wegsteek.
As jy wel onderlaag wil dra, kies ’n formule met houkrag. Maar moenie vergeet om dalk eerder ’n ligte formule met medium bedekking te kies nie, want dit sal help dat jou vel steeds asem onder die masker kan haal.
Fokus op oë
Wanneer ons ’n masker dra, is alle fokus slegs op ons oë. Ooggrimering is daarom die ideal medium om jouself mee uit te druk.
1. Monochromatiese ooggrimering wat by jou masker pas
As jou masker blou is, kies ’n ander skakering van blou om jou oë mee te grimeer. Speel met oogskadu's, maskara én oogomlyner.
2. Komplimentêre kleure
Kies die teenoorgestelde kleur op die kleurwiel om by jou masker aan te sluit én wat jou oë meer sal laat uitstaan. As jou masker geel is, speel met pers oogskadu.
3. Grafiese en kleurvolle oogomlyner
Oogomlyner is ’n slim manier om maklik jou grimeervoorkoms woema te gee. Moenie bang wees om met kleur te speel nie, kies dieselfde skakering as die kleur van jou masker of ’n kleur wat jou oogkleur komplementeer. Trek ’n katoog of probeer ’n grafiese oogomlyner-voorkoms:
4. Welige wenkbroue en wimpers
Dis waar die fokus nou is. Bemeester die tegniek om jou wenkbroue foutloos in te vul sodat dit nogsteeds natuurlik lyk. Onthou om jou wenkbroue opwaarts en uitwaarts te kam vir ’n welige, donserige voorkoms.
Wend so paar lae maskara aan om jou oë trefkrag te gee. Begin by die haarwortels en wikkel die maskaraborsel op vir ekstra dikte en lengte.
Bronne: www.nytimes.com, www.independent.co.uk, www.huffpost.com
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET