Die Britte se Oscar-aand, die Bafta-toekennings, is gisteraand in Londen gehou. Ons gunsteling-sterre het nie net in spog-uitrustings opgedaag nie, hul grimering en hare is ewe keurig gedoen.
Die SARIE-skoonheidspan het talle treffende opstyle op die rooi tapyt gewaar: party sjiek en netjies, ander losser of met die mooiste bykomstighede versier.
As jy langer hare het, is dit nou die tyd om met opstyle en haarbykomstighede te speel. ’n Lae poniestert of ’n bolla wat effens losgetrek is, is gemaklik maar steeds stylvol.
Los
Kry inspirasie by Meghan Markle, hertogin van Sussex. Wend ’n produk wat tekstuur gee op jou hare aan en maak dit losweg vas. Trek dan ’n paar stringe hare rondom jou gesig uit en rond die styl af met ’n ligte haarsproei om dit in plek te hou.
Netjies en sjiek
Is die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, se bolla meer jou styl? Wend ’n ligte haarsproei oor jou hare aan. Kam dan jou hare met ’n fyn kam om seker te maak dit vertoon netjies voordat jy dit vasmaak. Gebruik knippies om jou opstyl vas te steek.
Haarbykomstighede
Kate wys weer hoe dit gedoen kan word. ’n Mooi bykomstigheid kan by los óf netjieser opstyle gedra word en verleen ’n tikkie drama aan selfs die eenvoudigste haarstyl: van bonkige haarbande en kunsblomme tot fyn minimalistiese haarknippe en linte van satyn of fluweel.
Lily Collins
Haar hare was in ’n sjiek lae bolla gestileer.
Margot Robbie
Haar hare was heeltemal na die linkerkant oorgekam en in ’n moderne opstyl gestileer.
Lucy Boynton
Haar stompgesnyde bob was in ’n halwe opstyl gestileer. Die growwe tekstuur van haar hare het by haar rok se materiaal gepas. Haar retro-styl voorkoms is met groot haarknippies afgerond.
Kate Middleton
Op die aand het die hertogin van Cambridge haar hare in ’n netjiese bolla met tekstuur gedra.
Amy Adams
Haar poniestert het glansend vertoon en is met ’n strik versier.
Salma Hayek
Haar hoë opstyl is met ’n Gucci-haarbykomstigheid afgerond.
Bronne: www.harpersbazaar.com
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET