Aanvullings en voorskrifmedikasie

“Wanneer ons haarverlies behandel, begin ons gewoonlik deur tekorte aan te vul. Jou dokter sal goeie aanvullings met bv. biotien en sink aanbeveel om die hare van binne te voed en gesonde groei te bevorder,” sê dr.Elfrieda Fourie, mediese dokter by die estetiese kliniek Anti-Aging Art in Johannesburg. Na gelang van die oorsaak kan jou dokter ook spesiale mengsels wat jy op jou kopvel aanwend, voorskryf.

Naaldbehandeling

Naas aanvullings en medikasie toon professionele naaldbehandeling – waar spesifi eke bestanddele by jou kopvel ingespuit word – die beste resultate. “Dié behandeling vermeerder die bloedvloei na jou kopvel sodat meer suurstof en voedingstowwe aan die haarfollikels gelewer word en die wortels gevolglik vernuwe en beter groei,” sê dr Maureen Allem, mediese hoof van die estetiese-kliniekgroep Skin Renewal. ’n Kombinasie van behandelings versprei oor ’n tydperk is gewoonlik nodig.

Beste 3 naaldbehandelings vir haarverlies

1. PLAATJIERYKE PLASMA (PRP)

Plasma wat ryk aan bloedplaatjies is en groeihormone bevat, word by jou kopvel ingespuit.

2. MESOTERAPIE

’n Mengsel van aktiewe bestanddele soos vitamiene, minerale, peptiede en hialuronsuur word by jou kopvel ingespuit

3. KARBOKSIETERAPIE

Koolstofdioksied word in die dieper lae van jou kopvel ingespuit

Tuissorgprodukte

Die regte tuissorgprodukte kan jou kopvel skoon en gesond hou en ook help dat hare langer in hul groeifase bly. Volg die aanbevelings van ’n ervare en opgeleide terapeut of dokter om te voorkom dat jy duur produkte gebruik waarvoor geen wetenskaplike gronde bestaan dat dit haarverlies verminder nie, sê dr. Allem.