FOTO Unsplash

Hare vaal & droog

Ons almal begeer blink hare, maar gedurende die winter lyk dit dikwels vaal en leweloos. Erge vaalheid word hoofsaaklik veroorsaak deur ’n verlies aan vog vanuit jou haarlengtes weens kaggels, verwarmers en wind wat vog uit die lug onttrek, sê Karen Botha, bemarkingsbestuurder van die haarsorgreeks INOAR in SA.

“Dit kan ook wees dat jy nie jou sjampoe en stileerprodukte behoorlik uitwas nie, of dat jy te veel stileerprodukte gebruik.” Soos wat ons ouer word, kan ’n verlies aan kleurpigmente en verminderde olievervaardiging ook jou hare laat valer lyk.

WAT KAN JY DOEN?

Dis belangrik om in die winter meer as net ’n opknapper te gebruik om jou hare te bevog. “Gebruik ’n haarmasker of-olie en los dit sommer oornag onder ’n stortkappie aan om hitte binne te hou. Hitte laat die kutikels van jou hare oopgaan en só kan die bevogtigende bestanddele dieper penetreer,” sê Karen.

Top-produk

’n Ligte masker wat hare intens bevog en maklik uitwas – Label.m Honey & Oat Mask (R350). By uitsoeksalonne en retailbox.co.za

Hare wat breek

Hare wat swak en beskadig is, breek gewoonlik naby aan die haarwortels af. Volgens Karen is daar verskeie faktore wat dit kan veroorsaak, bv. droogheid, oorstilering met hitte, hare wat gereeld gekleur of gebleik word, of wanneer jy haarsorgprodukte wat keratien (’n tipe proteïen) bevat vir te lank aaneen gebruik.

FOTO Getty Images / Gallo Images

WAT KAN JY DOEN?

Beskadigde hare het keratien nodig om die proteïenverbindings in jou haarskag te herstel, maar pas op om jou hare daarmee te oorlaai. As daar ’n wanbalans tussen proteïen en vog in jou hare is, lei dit óók tot hare wat maklik breek en grof voel.

“In dié geval is dit belangrik om met jou haarstileerder te praat sodat hy of sy na aanleiding van jou hare se toestand die regte tuissorgprodukte kan aanbeveel. Kyk uit vir goed geformuleerde sjampoes en opknappers met keratien wat steeds die belangrike proteïen-vog-balans in jou hare sal handhaaf.”

Top-produk

Bamboesvesels ryk aan aminosure in die nuwe INOAR Resistance Bamboo Fiber Shampoo en Conditioner (R590 vir albei) versterk hare en bevorder gesonde haargroei. By uitsoeksalonne of inoar.co.za

’n Sensitiewe kopvel

As jou kopvel geneig is om jeukerig en branderig te voel dui dit op sensitiwiteit. Dikwels is dit weens sekere irriterende bestanddele in haarsorgprodukte wat jou kopvel van natuurlike olie stroop, die buitenste laag beskadig en inflammasie veroorsaak.

Stres, allergieë, hormoonskommelinge en mediese toestande soos psoriase en ekseem kan ook ’n rol speel.

FOTO Instagram / Vogue Magazine

WAT KAN JY DOEN?

Die belangrikste is om jou kopvel te kalmeer en die beskermende lagie (barrier function) te herstel. Wees op die uitkyk vir sjampoes met sagte, strelende bestanddele wat spesifiek geformuleer is vir ’n sensitiewe kopvel. ’n Serum of tonikum kan help om jeukerigheid te verlig.

Top-produk

Dié sjampoe is seep- en geurvry en kalmeer ’n droë, jeukerige kopvel – Eucerin Dermo Capillaire Calming Urea Shampoo (R125)

Opstaanhaartjies (Flyaways)

Tydens die koue maande kan die droër lug lei tot hare wat staties is en die fyn haartjies al langs jou haarlyn in alle rigtings laat staan. Hoe gesonder jou hare, hoe minder opstaanhaartjies sal jy hê.

FOTO Getty Images / Gallo Images

WAT KAN JY DOEN?

’n Inbly-opknapper of hittebeskermingsproduk voordat jy jou hare stileer, bevog en “klou” aan jou hare en help só om dit minder staties te maak. Ná stilering kan ’n spuitjie haarsproei op jou haarborsel voordat jy jou hare kam, of ’n bietjie haarserum of -olie, help om opstaanhaartjies te tem.

Volgens Angelique Calitz, haarstileerder by die INOAR-haarsalon in Pretoria, werk arganolie veral goed omdat die molekules klein genoeg is om vinnig in jou hare in te trek en daarom nie jou haarlyn olierig sal laat lyk nie.

Haardroërs en stileertoestelle wat ioontegnologie inspan, neutraliseer statiese hare deur negatiewe elektrone oor te dra na jou hare, wat met positiewe elektrone gelaai is. As jy gereeld jou hare met hitte stileer, is dit ’n goeie plan om in so ’n toestel te belê.

Top-produk

Voorkom opstaanhaartjies met net ’n druppel arganolie – Schwarzkopf Professional Oil Ultime Argan Finishing Oil (R415). By uitsoeksalonne

Haarkleur wat uitgroei

Hoewel jy ná byna drie maande van inperking weer jou haarsalon vir ’n vars haarkleur kan besoek, is dit goed om vir gesondheidsredes die gereeldheid van jou besoeke te beperk. Boonop sal meer tyd tussen haarkleursessies ook meer ekonomies wees, sê Angelique.

FOTO Getty Images / Gallo Images

WAT KAN JY DOEN?

“Ek raai my kliënte aan om baba-ligstrepies (baby lights) of die balayage-kleurtegniek (ligstrepies word vryhand op haarlengtes aangeverf sodat daar nie ’n direkte uitgroeilyn is nie) op hul hare te laat doen.

Dié tegnieke groei baie mooi uit en kan die tyd tussen haarkleur-afsprake met drie tot selfs ses maande verleng,” sê Angelique.

As jy gewoonlik jou hare een skakering kleur, kies ’n skakering en ondertoon so na as moontlik aan jou natuurlike haarkleur sodat jou wortels minder opsigtelik uitgroei. Gekleurde haarsproeie wat uitgroeikleur by jou wortels tydelik verbloem, werk ook goed.

FOTO Instagram / Joico

Top-produk

Die L’Oréal Paris Magic Retouch Instant Root Concealer Spray (R100) is te kry in sewe skakerings – van ligblond tot koper en swart.

4 WENKE OM HARE WAT BREEK TE VERMINDER

  • Eet kos ryk aan proteïene en omega 3-vetsure soos eiers, lensies, Griekse-styl jogurt, peulgroente en vars vis.
  • Moenie nat hare borsel nie. Hare wat nat is, is baie swak en breek maklik. Gebruik eerder ’n wye-tandkam en beweeg stadig.
  • Slaap op ’n satynkussingsloop. Hare gly makliker oor die sagte tekstuur, wat gesplete punte en hare wat breek, kan verminder.
  • Slaap met jou hare in ’n los vlegsel.
100
Die hoeveelheid hare wat ons in ’n dag verloor. Dit word beskou as normaal.