Een van die 51-jarige Jennifer Lopez se mees onlangse plasings op sosiale media het aanhangers behoorlik in hul spore gestuit. En met goeie rede, dié Latynse liefling dra haar hare in ’n pixie-styl op Allure se Maart-voorblad.

Dis net mooi ’n jaar terug wat sy ekstra lang hare met hope volume by die NFL Super Bowl-konsert gehad het. 

Nes Jennifer al herhaaldelik bewys het dat sy nie net op die verhoog hoort nie, maar óók op filmstelle, kan sy verskeie haarstyle lag-lag dra.

Die pixie-haarstyl pas haar goed en komplementeer haar wangbene. Tog beweer verskeie bronne dat dié treffende haarstyl ’n pruik is. Volgens Daily Mail het J-Lo se gunsteling haarstileerder, Chris Appleton, haar hare met behulp van ’n pruik voorbladmooi afgerond.

FOTO Instagram / Jennifer Lopez

In September 2015 het aktrise Penélope Cruz op die Spaanse Vogue met ’n soortgelyke treffende haarstyl gepronk, toe het sy óók lesers met ’n pruik geflous. 

Kyk net hier:

Plaaslike sterre soos Marlee van der Merwe en Mandi Du Plooy-Baard, van die Getroud met Rugby-faam, lyk net so goed met ’n pixie-haarstyl. Boonop spog dié TV-sterre met die ware Jakob.

Wil jy ook jou hare kort sny, maar is bang dit lyk nie mooi nie? Die belangrikste ding om in gedagte te hou is jou gesigvorm. Hier's kort haarsnitte wat pas by elke gesigvorm.  

Probeer dié kort haarstyle:

Ovaal

As jy ’n ovaalvormige gesig het, is jou voorkop en kakebeen min of meer ewe breed. Jy’s gelukkig, want die meeste kort haarstyle lyk goed by jou gesigvorm. Vermy egter ’n swaar kuif.

Hartvormig

Jy het hierdie gesigvorm as jou voorkop en wangbene breër is as jou kakebeen. Indien jy jou hare kort wil dra, laat sny ’n kuif wat jou voorkop ’n bietjie wegsteek.

Rond

Ronde gesigte is min of meer net so lank as wat dit breed is. ’n Kort haarstyl met ’n sagte kantkuif verbloem ’n ronde gesigvorm. Fokus die volume bo en nie langs jou ore nie.

Vierkantig

’n Breë voorkop en ’n hoekige kakebeen is kenmerkend van ’n vierkantige gesig. ’n Kort styl met sagte "veertjie"-lae en baie tekstuur pas goed by dié gesigvorm.

Lank

As jou gesig langer is as wat dit breed is, het jy ’n lang gesigvorm. Pixie-haarstyle lyk veral mooi by hierdie gesigvorm. Meer tekstuur en volume aan die kante gee jou gesig effe breedte.

Bronne: www.dailymail.co.uk, www.cosmopolitan.com