Ons het haar leer ken as Pippa Venter in die kykNET-sepie Binnelanders. Maar deesdae woon Nadia Valvekens in die Paarl en verskyn sy as verskeie rolle in TV-reekse, TV-films en verhoogproduksies. Haar nuutste projek is die Netwerk24-blitssepie Op en Af.
Nadia was nog altyd waaghalsig met haar hare. Eers het sy dit in ’n blonde pixie-styl gedra waarmee sy op vier SARIE-voorblaaie verskyn het. Toe laat groei sy haar hare in ’n stylvolle bob en kleur dit sjokoladebruin met ’n rooi ondertoon.
Met hierdie vars voorkoms het sy die rol van Tessa Malan in verlede jaar se gewilde kykNET-reeks Alles Malan vertolk.
Nóú was dit weer tyd vir verandering. Sy het die allermooiste foto’s van haar nuwe blonde haarkleur spesiaal met SARIE gedeel. Dis ’n warmer skakering wat haar vel en blou oë komplementeer.
En wat dink Nadia van haar nuwe hare? "Ek hou van beide lig en donker, dit voel of albei ’n anderste tipe energie deurgee. Maar in my hart is ek altyd blond, dis hoe ek gebore is!"
Kyk net hier:
"Dis ’n warmer heuningblond skakering," sê Jaycee Reynolds, mede-eienaar, bestuurder en haarstilis van Butterflies Hair and Beauty geleë in Burgundy Estate, Durbanville. Hy sê Nadia wou graag ’n natuurlike blond hê met ’n warmer ondertoon.
Dis ’n tydsame proses om van donker na lig te gaan, volgens hom. Tydens elke salonbesoek het hy Nadia se donker kleur geleidelik met ligstrepies ligter gemaak, ’n veiliger en gesonder metode om van donker na lig te gaan.
Sorg só vir jou ligte hare
Jaycee stel die volgende haarprodukte voor:
1. ’n Haarmasker of inbly-opknapper om jou hare te voed en gesond te hou.
2. Silwer sjampoe om jou blonde haarkleur mooi te hou en geelheid teen te werk.
Nadia het al ’n paar keer op SARIE se voorblad gepronk:
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET