Jy kan haar niks vertel nie. Aktrise Jolene Martin weet waarvan sy praat. As matriekleerling het sy alleen na Parys in Frankryk toe gereis om ’n toespraak by die Verenigde Nasies se hoofkwartiere te lewer. Boonop het sy as skolier reeds haar vaardighede as aktrise op verskeie merkwaardige platforms begin verfyn. Sy het as aanbieder vir ’n jeug TV-program op SABC 2 verskyn sowel as hoofrolle in professionele musiekblyspele op die verhoog vertolk.  

Ja, Jolene het al behoorlik geleef! 

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

Maar, soos met ons almal, het die pandemie die wind uit haar seile geruk. 

“2020 en 2021 het ons geleer dat dit tevergeefs is om planne te maak. Maar ons móét aanhou droom en hoop hê. Ek bid dat mense se swaarkry en verliese as gevolg van die pandemie tot ’n einde sal kom,” sê Arendsvlei-aktrise Jolene Martin.

Tog, glo sy dat die gevolge en nadraai van Covid-19 vir baie van ons ’n waardevolle leerskool is. Dit het haar perspektief oor vele aspekte kom verander. Prestasies en toekennings wil sy nie oor praat nie, want nou weet sy dat haar grootste prestasies nie meer as byvoorbeeld toekennings of kwalifikasies gedefinieer word nie. “My ouers bars van trots en hulle sê dit gereeld vir my. En my gemeenskap se volgehoue ondersteuning omdat my werk vir hulle ’n stem gee - dís alles my prestasies waaroor ek baie trots is.”

FOTO Verskaf

Jolene is baie dankbaar vir die rol wat haar ouers in haar lewe van kleintyd af vertolk het. “Ek is só dankbaar vir hoe teenwoordig, getrou en beskermend my ouers teenoor my is.” Sy beskou haarself as ’n sensitiewe individu en dat haar ouers nog altyd dit kon raaksien en haar daarvolgens kon lei en ondersteun in ’n wêreld wat nie altyd saggies met mense omgaan nie. “Hulle spirituele leiding het my toegelaat om sag in ’n harde wêreld te kon bly. Ek het hulle innig lief.” 

FOTO Verskaf

Dis vir haar ’n voorreg om Beatrice in die kykNET & kie-telenovela Arendsvlei te vertolk. “Sy is ’n enkelma, skoolhoof en sy glo in liefde. Sy is waarlik ’n merkwaardige vrou. Soms voel dit asof ek die rol van ’n heldin vertolk! Sy is ’n vegter, vroue vind aanklank by haar.”

Jolene glo dat die sukses van dié gewilde telenovela aan die hoofskrywer Theltom Masimila te danke is. Die kulturele nuanses en egtheid van die mense word deurlopend konsekwent en getrou weergegee.

Veerkragtigheid is vir haar ’n belangrike tema wat konstant deur die verloop van die episodes oorgedra word. “Suid-Afrikaners vind daarby aanklank. Ons veerkragtigheid onderskei ons van die res van die wêreld. Dis waarom die mense van die Cape Flats my só inspireer. Ons is veerkragtig sonder om eens daaraan te dink, ons moet onthou om juis daarop trots te wees!”

FOTO Instagram / Jolene Martin

SKOONHEID

Wat is jou skoonheidsfilosofie?

Keep your heart beautiful and everything else will follow.

Jy voel op jou mooiste ...

Wanneer ander my onvoorwaardelik lief het.

Jou gunsteling parfuum?

Elie Saab Royal (R1 725 vir 50ml EDP)

Beskikbaar aanlyn by woolworths.co.za

Enige gunsteling grimeerwenke?

Ek hou daarvan om wit oogomlyner aan my waterlyn te wend om my oë op te helder. Ek dra ook altyd Placecol Illuminé Sun Protection SPF40 (R450) onder my onderlaag, dit dien as ’n basislaag en help om ’n glansende voorkoms te skep.

Jou moet-hê velsorg en/of grimeerprodukte?

Ek gebruik al vir agt jaar Placecol se velsorgprodukte. Jou grimering gaan mooi op jou vel lyk wanneer jou vel gesond is.

Jou skoonheidsikoon of -inspirasie en hoekom?

Jennifer Lopez! Sy het hope pret en lewe voluit. Haar oë getuig van daardie vreugde. Ek glo dis hoekom sy jaar na jaar as die mooiste vrou ter wêreld benoem word. Haar vreugde straal van binne.

FOTO Instagram / Jolene Martin