Kara du Toit glo in die volgende twee goed: Teenwoordigheid en jou beginsels. Nou nog meer ná ’n moeilike 2020.

Sy brei uit: “Wees teenwoordig ten alle tye en neem besluite op grond van beginsels en nie op grond van omstandighede nie. Omstandighede verander konstant, beginsels hou jou op koers.”

FOTO Instagram / Kara du Toit

Vir meer as ’n jaar vertolk sy die rol van dok Maya Gosslin in die kykNET-sepie Binnelanders, ’n rol wat haar toegelaat het om meer oor haarself te leer. “Ek is daaraan herinner dat ek goed onder druk kan werk, selfs wanneer ek professionele of persoonlike stres ervaar. Inteendeel, ek floreer onder druk, mits ek verantwoordelik omgaan met my gesondheid in ander aspekte.”

Aangesien Binnelanders ’n halfuur lange weeksdag-drama is, vereis dit lang ure op stel. Ja, dit bly uitdagend, maar Kara kla glad nie. “Die verhoudings wat ek met kollegas gebou het in die afgelope jaar is die brandstof wat opmaak vir die vreeslike uitmergelende dae op stel en die lang ure van aangeskakel bly.”

FOTO Instagram / Kara du Toit
FOTO Instagram / Kara du Toit

Kara is waarlikwaar ’n jack of all trades, soos die Engelse gesegde lui, sy het ervaring in die korporatiewe wêreld, onderwys en selfs ’n grimeerkursus op haar kerfstok. En op haar vasbyt-vermoë is sy die trotste.

“Om vas te byt wanneer dinge nie uitdraai soos ek gehoop het nie, maar ook om vas te byt wanneer ek dít gekry het waarvoor ek gehoop het en die geleentheid moet deursien. Elke geleentheid is harde werk. As jy dit kies, eien elke faset daarvan.”

Boonop het sy onlangs die rol van skrywer aangepak en is besig om ’n kinderboek te skryf. “Ek het 'n droom gehad en die karakters en storie waarmee ek in daardie droom kennis gemaak het was te lieflik en kleurvol om eenvoudig van te vergeet.” 

FOTO Mélany Davel Photography

KARA SE SKOONHEID 101

1. Hoe het lewe na inperking en maskerdra jou skoonheidsuitkyk en -roetine beïnvloed?

Ek het meer holisties begin kyk na my skoonheidsroetine. Wat het my liggaam nou nodig om gesond en sterk te wees? Daar was die luuksheid van tyd om te probeer uitpluis wat dit is wat my vel en lyf nodig het en dit het ’n groot impak op my oefenroetine, dieet en velsorgroetine gehad. 

2. Enige skoonheidsraad wat jy wens jonger Kara moes weet?

Eintlik maar net om my ligte vel en die tekstuur en kleur van my hare lief te hê en te waardeer al lyk dit nie soos baie van my maats s’n nie. Nou is ek so lief daarvoor. 

FOTO Instagram / Kara du Toit

3. Die een grimeertrend wat jy vroeër gedra het en waaroor jy nou lag?

Ek het nooit die vorm van my oë verstaan nie (ek het “hooded eyes”). Daarom het ek my oë verkeerd grimeer. Dit is eers nadat ek ’n grimeerkursus voltooi het waar ek geleer het hoe om my oë groter en meer oop te laat vertoon. Nou vermy ek grys en swart oogskadu. Dit komplementeer my glad nie. 

FOTO Instagram / Kara du Toit

4. Die een haartrend wat jy vroeër gedra het en waaroor jy nou lag?

In standerd 6 en 7 het ons na hierdie styl as die “kraaines” verwys. ’n Vreeslike wilde bolla wat met ’n klomp bobby pins aanmekaar gesteek is. En dan natuurlik die slierte wat uitgehang het. O, aarde!

5. Jy is oppad Europa toe vir vakansie. Jou 5 moet-hê skoonheidsprodukte wat jy eerste inpak en hoekom?

Weleda Skin Food Original Ultra-Rich Cream (R282) Beskikbaar aanlyn by za.iherb.com

Cetaphil Gentle Skin Cleanser (R115)

SKOON. Ruby Marine Overnight Hydrating Mask (R500) Beskikbaar aanlyn by www.skoonskin.com

Sonskerm en ’n voggewende gesigsproei is ook op die lys.