Dié 94-jarige koningin Elizabeth II word gereeld gewaar by publieke byeenkomste waar sy met lipstiffie in die hand haar lippe inkleur. Jy kan dié langslewende monarg altyd deur ’n ring trek. Haar grimeervoorkoms is sag en vroulik, met gedefinieerde blos en treffende lippe sal jy haar sien. Dis duidelik dat sy steeds haar voorkoms as belangrik ag. 

Dieselfde kan van haar kleinseun, prins William se vrou, Kate Middleton gesê word. Alle oë is altyd op die hertogin van Cambridge wanneer sy by ’n geleentheid opdaag, sy lyk altyd foutloos.

FOTO Instagram / Kensington Royal

Droom jy ook daarvan om soos ’n koninklike te lyk? Goeie nuus – dis maklik!

Koningin Elizabeth II

Volgens die internasionale nuuswebwerf Insider dra die konigin al vir byna 30 jaar dieselfde kleur op haar naels: ’n deursigtige sagpienk skakering van essie genaamd Ballet Slippers. Volgens dié naellakreeks se webwerf het die koningin se haarstileerder in 1989 glo in ’n brief aan die essie-stigter, Essie Weingarten, vir ’n bottel van dié supergewilde skakering gevra, omdat dit die enigste kleur is wat die koningin wou dra op haar naels. En ’n paar dekades later is dit steeds haar enigste keuse.


Ons dink dié neutrale sagpienk skakering pas die konigin perfek. Dis elegant en gesofistikeerd en kan na enige geleentheid gedra word. Die subtiele kleur komplementeer ook haar kenmerkende helderkleurige uitrustings goed.

FOTO Instagram / The Royal Family

essie Nail Polish in Ballet Slippers (R99) Beskikbaar aanlyn by www.superbalist.com

Kate Middleton, hertogin van Cambridge

Konigin Elizabeth is nie die enigste koninklike wat lief is vir ’n eenvoudige skakering op haar naels nie.

Haar skoon-kleindogter Kate Middleton het op haar troudag met prins William essie se naelkleur in Allure vir haar naels gekies. Volgens Marina Sandoval, Kate se manikuris die afgelope vyf jaar, verkies die hertogin ’n klassieke Franse manikuur met haar naels kort en vierkantig gevorm, berig die Britse koerant Daily Mail. Dié skakering komplementeer haar gelaatskleur perfek, het Marina aan Daily Mail gesê.

FOTO Instagram / Kensington Royal

Boonop is Kate se grimeervoorkoms ook altyd treffend, moeiteloos, dog elegant. Gelukkig is dit maklik om een van haar gunsteling grimeervoorkomste, subtiele rokerige oë en sagpienk lippe ook vir jouself te skep. 

Saam met haar welige wenkbroue en ’n tikkie pienk op haar wange en lippe laat dié voorkoms haar glansryk, gemaklik en toeganklik lyk. Dis ook geen geheim nie dat Kate daarvan hou om sélf haar grimering voor glansgeleenthede aan te wend. Sy het selfs op haar troudag haar eie grimering gedoen!

FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images

Dit hoef jou nie ure te neem om jou rokerige oë te skep nie – al wat nodig is, is ’n veelsydige oogskadu-palet en dié maklike stappe …

Kate se rokerige oë in 5 stappe

Die geheim van rokerige oë is om jou oogskadu-kleure goed in te skakeer vir ’n soort ombré-gevoel. Kies ’n oogskadu-palet met drie neutrale kleure in skakerings van medium tot donker.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Stap 1: Wend die medium skakering van die binnehoek van jou oog tot in die middel van jou ooglid aan met ’n oogskadu-kwas.

Stap 2: Skakeer die donkerder skakering van die middel van jou ooglid na die buitehoek van jou oog in. Gebruik redelike ruim kwashale.

Stap 3: Wend die donkerste skakering teenaan jou boonste wimperlyn aan. Wend dié skakering ook in die vou van jou ooglid aan en skakeer die kleur baie goed in.

Stap 4: Vir ekstra drama, wend ook die donkerste skakering net onder jou oog aan en skakeer dit liggies na die buitenste hoek in.

Stap 5: Tik ’n bietjie van die ligste skakering in die binnehoek van jou oog aan om dit groter te laat lyk. Nou het jy net ’n paar lae maskara nodig om die voorkoms perfek af te rond.

Bronne: www.theinsider.com, www.allure.com, www.dailymail.co.uk