Hoe lui die Engelse gesegde nou weer? Jou ouderdom is net ’n syfer, hoe jy lyk en voel het niks daarmee te doen nie. Dit het wel baie te doen met hoe goed jy jou vel versorg.

Wie wil dan nou nie ’n jeugdige, blosende gelaat hê nie? Gelukkig is daar ’n paar reëls wat jy kan volg om velveroudering so lank as moontlik te vertraag.

Hier is drie geheime:

1. Gebruik ’n essens

’n Essens het ’n waterige tekstuur en ligte formule. Dis geformuleer om jou vel te hidreer en dring die vel dieper in as ’n gewone vogroom. Met besoedeling, lugversorging, hitte en droë lug wat ons vel gedurig van vog stroop, is dit ’n wonderlike voginspuiting. En ’n gehidreerde vel is ’n gesonde, plomper en mooier vel. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Wend dit ná jou verfrisser aan. Tik ’n klein hoeveelheid van die waterige formule oor jou vel en druk liggies.

2. Maak seker jou vel kry genoeg oefening

’n Gesigrollertjie wat van groenkwarts gemaak is, is een van die nuutste giere om jou vel ’n hupstoot te gee. Soos wat die rollertjie oor jou gesig beweeg, stimlueer dit jou limfstelsel om van gifstowwe ontslae te raak. Dit help om inflammasie te beveg, verbeter bloedsirkulasie en stimuleer die vervaardiging van kollageen sodat die vel fermer en plomper lyk.

FOTO Unsplash / Content Pixie

3. Moenie gedurig nuwe velsorgprodukte gebruik nie

Velsorgprodukte het tyd nodig om resultate te lewer. Gee jou vel kans om aan ’n nuwe produk gewoond te raak voordat jy besluit of die produk vir jou werk of nie. Selle neem ’n maand om te vernuwe en selfs langer soos jy ouer word, so moenie dadelik sigbare resultate verwag nie.

Bronne: www.vogue.co.uk, www.self.com