In vandag se wêreld is baie van ons reeds goed ingelig oor goeie gesondheidspraktyke wat belangrik is om na te streef vir algehele welstand. Detoks is een van die gonswoorde wat gereeld genoem word, maar wat beteken dit nou regtig?

Detoks vir jou vel is ’n geleentheid vir jou vel om van onsuiwerhede en gifstowwe ontslae te raak wat jou velgesondheid negatief beïnvloed. Jou vel is immers jou grootste orgaan en word konstant aan skadelike faktore blootgestel. Só is dit makliker vir jou vel om effektief kollageen en elastien te vervaardig, selvernuwing aan te hits en jou vel te beskerm.

Vermy dié slaggate:

1. Moenie net op jou velsorg fokus nie

’n Vel-detoks gaan nie effektief werk as jy steeds verkeerde voedselsoorte inneem nie. Dis noodsaaklik om jou dieet ook slim aan te pas. Hawermout, bessies, piesang en sitrusvrugte werk goed vir detoks. Probeer ook om suiker, olierige kosse, kafeïen en gaskoeldrank te vermy. 

FOTO Unsplash / Bruna Branco

2. Moenie die tyd wat jou vel nodig het om behoorlike te detoks, onderskat nie

Voor ’n ordentlike detoks is ons vel gereeld aan negatiewe faktore blootgestel. Dit gaan nie binne ’n paar dae reggestel word nie. Eerder te veel tyd as te min is nodig vir ’n klaarblyklike verskil. Raadpleeg jou dermatoloog oor hoe jy vir ’n voldoende tydperk slim kan detoks vir jou vel.

3. Beperk blootstelling aan stomende water

As jou vel te veel aan stomende water blootgestel word, sal voedsame natuurlike olies van jou vel gestroop word. Jou vel het juis hierdie olies nodig om gevoed, gehidreerd en gesond te bly. 

4. Moenie oorywerig wees nie

Dis natuurlik om enige leefstylverandering of soos in die geval ’n detoks met entoesiasme aan te pak. Dis tog belangrik om dit nie te oordoen nie. Hou streng by jou gewone velsorgroetine, maar voeg byvoorbeeld ’n masker by, reinig soggens en saans jou gesig en probeer om nie te veel grimering te dra nie.