Jy het jou gunstelingprodukte en jou vaste velsorgroetine. Maar soos wat die tyd aanstap, verander jou vel en jou vel se behoeftes, om nie eens te praat van die seisoene en verskillende lewensfases nie. 

Dit neem soms jare om produkte te vind wat vir jóú werk. Maar daar is tekens wat duidelik wys dis tyd om jou velsorgroetine aan te pas of selfs heeltemal te verander. Yolandé Swanepoel, programhoof van estetiese dermatologie by die Isa Carstens Akademie, beveel eerstens 'n seisoenale verandering aan, aangesien ons vel se behoeftes verander soos die seisoene verander.

Maar hoe gaan jou vel op nuwe produkte reageer? Wanneer sal jy weet die produk is effektief? "Afhangend van die tipe produk en rede vir die aanbeveling daarvan kan die vel deur verskeie stadiums gaan. Die normale tyd vir die vernuwing van die vel is 28 dae vir 'n jong vel en nog langer vir 'n ouer vel. Indien jy dus kyk na teenverouderingsbehandelings sal dit 2-3 maande neem om 'n werklike verskil te sien. As jy fokus op aknee, kan dit die eerste maand beteken dat alle onsuiwerhede eers sigbaar word, so jou vel sal eers 'slegter' lyk voor jy die verbetering sien."

Let op dié tekens:

Jy is nie tevrede met die voorkoms van jou vel nie

Te danke aan skoonheidsgiere soos 'n glansende gelaat of vel soos glas het jy dalk self die behoefte om die algehele voorkoms van jou vel aan te pas. Daar is wonderlike produkte beskikbaar wat dié giere moontlik kan maak. 

Jy sien nie resultate nie

Almal se velbehoeftes verskil. Velkwessies soos pigmentasie, velveroudering, aknee, olierigheid en dehidrasie is hoog op die lys. Elke kwessie reageer anders en het 'n spesifieke tyd nodig om op nuwe produkte te reageer. "Ons beveel gewoonlik aan dat jy 'n nuwe produk minstens drie maande gee om die effektiwiteit te evalueer. Met professionele produkte is dit ook rofweg hoe lank 'n produk sal hou," sê Yolandé.

Jou vel is droog

'n Gedehidreerde vel is moontlik 'n teken dat jy produkte gebruik wat bestanddele bevat wat nie goed vir jou vel werk nie. 

Jou vel is olierig

Dis belangrik om 'n voldoende velsorgroetine te volg. Bevogtiging is óók noodsaaklik vir diegene wat met 'n olierige vel sukkel. As jy 'n belangrike aspek van 'n goeie velsorgroetine soos bevogtiging vermy, kan dit tot oormatige olierigheid lei. As gevolg van dehidrasie sal jou vel juis ekstra sebum vervaardig wat tot aknee en olierigheid lei.

Jou vel is geïrriteerd

As jou vel jeuk, brand of stekelrig voel, is dit 'n duidelike teken dat jou velsorgroetine aangepas moet word. Dit kan inflammasie wees, wat so gou as moontlik behandel moet word.

Bron: www.insider.com

SARIE Voorbladgesig word trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOARIsa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle