Dis een van die eerste goed wat jy in jou ma of ouma se medisynekas sal vind. Petroleumjellie, die ‘wonderkuur’.
Dié staatmakerproduk dien meer as net een doel: Dit beskerm ’n droë vel, help om ligte brandwonde te genees, kalmeer ’n geïrriteerde en jeukerige vel en hou jou lippe sag en gehidreerd.
Volgens Vaseline se webtuiste het die chemikus Robert Chesebrough in 1859 'n onverfynde vorm van petroleumjellie as 'n neweproduk van olie in Pennsylvania, Amerika, ontdek. Die werkers by die olieraffinadery het dit gebruik om hul wonde te help genees. Robert het die genesende potensiaal van dié "wonder"-jellie bestudeer en 'n ligter, bruikbare mengsel vermeng. Vaseline soos ons dit ken, was vanaf 1865 in Amerika te koop.