Ons almal ken die goue reël, mooi van binne beteken mooi van buite. Jy is wat jy eet en jou leefstyl het ’n groot invloed op hoe jou vel, naels en lyf lyk. Deur net ’n paar veranderinge te maak kan jy ’n groot verskil sien.
Volgens SOLAL, ’n maatskappy wat spesialiseer in die navorsing van natuurlike medisyne en teenveroudering, is daar drie maklike dieetaanpassings wat jy kan maak vir ’n gesonder, stralende vel. Eet lae-GI-kosse, sorg dat jy genoeg vitamien C inkry, en verhoog jou inname van omega 3-vetsure. Monique Piderit, dieetkundige van Johannesburg, gee raad oor hoe jy meer van dié kosse kan inkry.
Hoë bloedsuikervlakke het ’n negatiewe impak op jou vel se vermoë om kollageen te vorm, wat tot plooie kan lei. Boonop het dit ’n invloed op jou hormoonvlakke, wat aknee kan veroorsaak. Dis dus voordelig vir jou vel om suikerryke kosse uit te sluit. Probeer om meer groente, vrugte (dit bevat natuurlike suikers), hawermout en boontjies te eet.