Ons weet die son is een van die grootste sondaars wat jou vel se jeugdigheid steel. Maar al hoe meer kenners meen daaglikse besoedeling speel net so ’n groot rol in velveroudering. Om dié moderne aanslag te takel het die bekende plaaslike velsorghuis Environ vanjaar hul Focus Care Comfort+-reeks produkte bekend gestel. SARIE gesels met die stigter en wetenskapdirekteur van Environ, plastiese chirurg dr. Des Fernandes, oor hoekom jou vel unieke sorg teen besoedeling benodig.

1. Hoekom fokus op besoedeling?

Wanneer ons verwys na besoedeling, praat ons nie net van uitlaatgasse en partikels in die lug nie, maar ook van sigbare lig, ultraviolet- en infrarooi-strale. Daarby ervaar ons nie net besoedeling in die buitelug nie, maar ook binnenshuis in die vorm van bakterieë, fungus, stof en die blou lig wat ons skerms uitstraal. Het jy al opgelet hoeveel stof op ’n ongebruikte tafel in jou huis kan opgaar? Dít gebeur ook op jou vel.

2. Hoe affekteer dit ons vel?

Besoedelingstowwe veroorsaak dat skadelike molekules, wat vry radikale genoem word, in jou vel vorm. Soos wat die molekules opbou, beïnvloed dit die algemene gesondheid van jou vel en word tekens van veroudering duideliker: dehidrasie, fyn lyntjies, ’n gelaat wat grof en vaal lyk en pigmentasievlekke wat meer sigbaar word.

3. Wat kan ons hieraan doen?

Ons sal besoedeling nooit heeltemal kan vermy nie, maar daar is maniere om die skade wat dit veroorsaak te verminder en bestuur. Antioksidante neutraliseer die skadelike effek van vry radikale. Dus moet produkte met ’n verskeidenheid antioksidante prioriteit wees. Dis ook belangrik om die buitenste laag van jou vel te beskerm en te verseker dat dit so dik as moontlik is sodat besoedelingstowwe moeiliker penetreer. Laastens moet jy saans soveel as moontlik besoedelingstowwe op die oppervlak van jou vel verwyder. Soms is gewone reiniging nie genoeg nie. ’n Produk wat besoedelingsmolekules behoorlik absorbeer en onskadelik maak, is ook nodig.

4. Hoe benader Environ dié aanslag?

Aangesien ons heeltyd beskerming van antioksidante nodig het, wou ons ’n gesigsproei skep wat jy ’n paar keer deur die dag oor jou grimering kan aanspuit. Die sproei vorm ’n onsigbare lagie op jou gesig om die hoeveelheid besoedelingstowwe (insluitend blou lig) wat met jou vel in kontak kom, te verminder. Om die besoedelingstowwe op jou veloppervlak te “deaktiveer” en verwyder het ons ’n masker ontwikkel wat houtskool bevat. Ons het lank aan hierdie formule gewerk en is trots op die ekstra bevogtiging en antioksidantvoordele wat dié masker bied.

- Dr. Ernst Eiselen, mediese raadgewer van Environ in Australië, het ook tot die onderhoud bygedra.