Die afgelope jaar was daar ’n ontploffing van nuwe skoonheidsaanvullings, hetsy in pilvorm of as drankie, wat beloof om jou vel van binne af ’n hupstoot te gee. Plaaslik is bekendes soos aktrise Simoné Pretorius, TV-aanbieder Therese Benade en voormalige Mej. SA en sakevrou Cindy Nell-Roberts aanhangers en drink dit graag in hul koffie, tee, vrugteskommels of net so. In die skoonheidswêreld staan die produkte bekend as “nutricosmetics”: gewoonlik ’n suiwer kollageenaanvulling of kollageen wat met ’n mengsel van ander bestanddele, soos vitamiene en minerale, antioksidante en selfs probiotika, geformuleer is.

Die groei in gewildheid van dié produkte word toegeskryf aan die wêreldwye tendens om ’n meer holistiese benadering tot gesondheid te volg, sê dr. Marisa Heyns, estetiese dokter by die praktyk Dr Nerina Wilkinson + Associates in Kaapstad. En dit maak sin, meen Stella Ciolli, kreatiewe direkteur van SKOON., want hoekom net belê in ’n goeie velsorgroetine wanneer jy ook op ’n dieper sellulêre vlak jou vel se funksionering kan ondersteun? Dié plaaslike velsorghuis het einde verlede jaar ’n reeks skoonheidsaanvullings in poeiervorm bekend gestel as ’n alles-in-een alternatief vir die verskeie gesondheidsaanvullings wat ons op ’n daaglikse basis neem.

“Vroue se lewe is besig en ons wou ’n produk skep wat maklik by jou roetine inpas en eerstens jou mikrobioom en die regulering van hormone ondersteun, en tweedens spesifieke aktiewe bestanddele bevat wat verskillende veltoestande, soos sensitiwiteit, verminderde elastisiteit en knoppies, teiken.”

Nog so ’n aanvulling, Dear Body, berus op dieselfde beginsel. Volgens dr. Liezl Bloem, navorser en een van drie vroue wat saamgewerk het om die Dear Body Skin + Gut Powder te skep, het hulle gevoel daar is nie ’n produk op die mark wat op ’n dieper vlak in jou vel se behoeftes voorsien nie. “Ons wou nie net die vel se kollageen aanvul nie, maar ook kwessies soos chroniese inflammasie verbeter en ’n gesonde spysverteringstelsel bevorder, wat alles op die ou end lei tot ’n gesonder vel.”

WENK

Drink aanvullings in poeiervorm net so opgelos in water of in ’n vrugteskommel. Jy kan dit ook by jou jogurt en muesli inmeng.

Wat is die bestanddele?

Die hoofbestanddeel in die meeste skoonheidsaanvullings is kollageen, ’n jellieagtige proteïen wat natuurlik in jou bene, ligamente, senings asook jou vel voorkom. In jou vel is kollageen deel van die bindweefsel wat dit plomp en jeugdig laat lyk. Dis noodsaaklik vir die vel se elastisiteit en om die vorm en fermheid te behou. Maar reeds van 25 af begin jou lyf minder kollageen vervaardig en daal die vlakke algaande. Kollageenpeptiede wat jy mondeliks inneem, is dus ’n gewilde manier om verlore kollageen aan te vul en so die voorkoms van lyntjies en plooie te verbeter en velveroudering te vertraag. Al hoe meer aanvullings word ook geformuleer met ander belangrike voedingstowwe, soos antioksidante wat jou vel van binne teen vry radikale beskerm, en plantekstrakte soos borrie en rooibos wat inflammasie beveg en voorkom. Danksy navorsing wat dui op die verband tussen die gesondheid van jou dermkanaal en die toestand van jou vel, sluit sommige formules ook vesel en pre- en probiotikakulture in. “Dit help om die goeie ‘goggas’ in die dermkanaal aan te vul, wat lei tot beter spysvertering en immuniteit en gevolglik ook ’n gesonder vel,” sê dr. Bloem.

Hoe werk dié aanvullings?

Skoonheidsaanvullings word mondeliks ingeneem. “Die verskillende bestanddele, soos die kollageenkomponente, omegas, vitamiene, minerale en antioksidante, word dan in die dermkanaal opgeneem. Hierna word alles deur jou bloedstroom vervoer na die dele van jou lyf waar dit benodig word, onder meer jou vel, en sommige bestanddele word in die selle tot kleiner komponente soos peptiede en aminosure afgebreek,” verduidelik dr. Bloem.

FOTO Getty Images / Gallo Images


Die vraag oor kollageen

Nie almal is ewe oortuig van die voordeel van kollageenaanvullings vir jou vel nie. Anneen Middel, geregistreerde dieetkundige van PVM Nutritional Sciences, glo daar is nog nie genoeg wetenskaplike bewyse dat kollageen wat mondeliks ingeneem word ’n direkte uitwerking op jou vel se voorkoms het nie. Dit is omdat jou liggaam die kollageen afbreek tot aminosure en peptiede (kort kettings van aminosure), dit vervoer na die lewer en dan gebruik vir verskeie funksies, onder meer energie en herstel. Daar is dus geen waarborg dat die proteïene op die ou end jou vel gaan bereik nie. Dr. Ian Webster, ’n spesialis-dermatoloog op Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore, glo kollageenaanvullings kan werk, maar waarsku dat nie alle handelsmerke dieselfde is nie. “Die belangrikste is om vas te stel of die kollageen wat jy drink inderdaad deur jou liggaam opgeneem word. Uit studies wat ek al te siene gekry het, wil dit lyk asof gehidroliseerde kollageen in vloeibare vorm, wat saam met ander bestanddele (soos hialuronsuur, magnesium, B-vitamiene en vitamien C) geformuleer is, makliker opgeneem en aan jou vel gelewer word.” Dr. Heyns stem saam dat daar studies met belowende resultate is, maar benadruk dat aanvullings nie jou gewone velsorgroetine kan vervang nie.

Watter resultate kan ek verwag?

Volgens Stella kry jy die meeste waarde uit ’n aanvulling wanneer jy dit daagliks oor ’n lang tydperk neem. “Jy sien gewoonlik eerste ’n verskil in die groei van jou naels en hare. Jy gaan dalk nie oornag minder plooie hê nie, maar die algehele gesondheid en glans van jou vel sal verbeter. Kwessies soos aknee en rooiheid behoort ook ’n verbetering te toon.” Dis belangrik om steeds ’n behoorlike velsorgroetine te volg, gebalanseerd te eet en te oefen. “Die geheim van jeugdigheid lê nie net in ’n potjie of ’n sakkie nie, maar in al die klein welstandsgewoontes wat jy op ’n daaglikse basis kweek,” sê sy.