Almal wik-en-weeg oor watter foto's die beste keuse vir hul SARIE Voorbladgesig-inskrywing gaan wees. Ons het met Yolandé Swanepoel, hoof van programontwikkeling by die Isa Carstens Akademie, gesels oor ’n behandeling wat sal help. 

Al ooit gehoor van dermaplaning? Dit is ’n vorm van afskilfering waar ’n spesiale chirurgiese lemmetjie gebruik word om dooie velselletjies en fyn haartjies op jou veloppervlak te verwyder. Die behandeling is al vir ’n tyd lank ’n gonswoord in die skoonheidswêreld danksy ’n magdom Instagram-plasings wat wys hoe mense dié unieke behandeling ondergaan en ná die tyd spog met ’n superstralende vel.

WAT BEHELS DIT?

Die terapeut beweeg die lemmetjie in kort, vinnige hale oor jou vel terwyl sy jou vel effens styf trek. So word die oppervlak mooi egalig afgeskilfer en as ’n bonus word die fyn haartjies op jou gesig ook verwyder, sê Yolandé.

HOEKOM AANBEVEEL?

Ná ’n dermaplaning-behandeling lyk jou vel onmiddellik vars en stralend en jou veltekstuur sysag en egalig. Dit maak dit ’n gewilde behandeling om voor ’n groot geleentheid soos jou troue (of jou fotosessie) te doen omdat jou onderlaag foutloos sal aanwend. Dis ook ’n goeie behandeling om te probeer as jy nie van die prikkelende gevoel van ’n chemiese afskilfering (peel) hou nie.

OM TE WEET

  • Die behandeling is glad nie seer nie en geen verdowing is nodig nie.
  • Maak seker jy besoek ’n gekwalifiseerde velsorgterapeut wat opgelei is in dié afskilferingstegniek.
  • Effense rooiheid ná die behandeling is normaal. Dit behoort binne ’n paar uur weg te gaan.
  • Wend altyd ’n SBF-produk op jou gesig aan ná die behandeling.

Is jy ’n natuurlike voorbladgesig?

Lyk jou vel reeds voorbladmooi op jou foto's? Neem daardie selfie en maak vanjaar die 2de "roaring 20’s": skryf in vir SARIE Voorbladgesig of SARIE Nuwe Gesig voor 10 Mei. Aangebied in trotse samewerking met Isa Carstens.

voorbladgesig skryf in