Jou oë is dikwels die eerste ding wat ander raaksien wanneer hulle na jou kyk. Lyk hulle vars, gesond en sprankelend, helder dit jou hele gesig op. Maar ongelukkig wys veroudering gewoonlik eerste rondom jou oë. Die vel hier is baie dun met minder oliekliere wat beteken die vel word vinnig droog en fyn lyntjies en plooie vorm makliker, sê Sonette Donker, velsorgkenner en eienaar van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg. Daarby beweeg dié deel van jou gesig voortdurend wanneer jy jou oë knip, praat en emosie uitdruk. “Tog vind ek vroue is dikwels bang om enige produk naby aan hul oë aan te smeer, of hulle glo nie ’n oogroom kan ’n verskil maak nie. Maar dit kán.” Produkte wat spesiaal vir die oogarea ontwikkel is bevat aktiewe bestanddele met kleiner molekules sodat dit doeltreffend die delikate vel kan penetreer, verduidelik Yolandé Swanepoel, hoof van programontwikkeling by die Isa Carstens Akademie. Die formules is ook ligter sodat dit nie pofferigheid veroorsaak of jou oë irriteer nie. Begin van jonks af jou oog-gedeelte goed versorg met dié raad en wenke.

Raad vir jou probleem

Donker kringe

Die oorsaak:

Swak sirkulasie onder jou oë lei daartoe dat bloed hier “saamhoop” en ’n donker skynsel veroorsaak. Genetika, te min slaap en allergieë speel dikwels ’n rol, sê Sonette.

Die oplossing:

Oogrome met kafeïen wat ontwikkel is om bloedsirkulasie aan te wakker sal help om donker kringe ligter te laat lyk. ’n Produk met vitamien C of ligweerkaatsende deeltjies help om die vel te verlig vir ’n helderder voorkoms.

Pofferigheid

Die oorsaak:

Pofferigheid onder jou oë kan op enige ouderdom voorkom en word dikwels veroorsaak deur te veel sout of alkohol in jou dieet, sekere medikasie, waterretensie of selfs die posisie waarin jy slaap.

Die oplossing:

Enigiets wat baie koud is op die vel, soos ’n koue teelepel, help om pofferigheid te verminder, Kyk daarom uit vir oogrome met ’n koel jeltekstuur of ’n metaal-aanwendingspunt.

Het jy geweet?

Groter "sakkies" wat onder jou oë vorm en nie weggaan nie, gebeur wanneer die natuurlike vet onder jou oë weens ouderdom ondertoe begin skuif. Dié sakkies kan slegs met snykunde of spesiale inspuitings verwyder word, sê Yolandé.

Fyn lyntjies en plooie

Die oorsaak:

Hoewel die voorkoms van lyntjies, plooie en laglyne rondom jou oë onvermydelik is, word die verskyning daarvan versnel deur sonblootstelling. Omdat ons dikwels nie sonskerm rondom ons oë aanwend nie, wys plooie vinniger hier.

Die oplossing:

Bedags is ’n oogroom met ’n SBF noodsaaklik. Bestanddele soos retinol en peptiedes wakker kollageen aan, terwyl hialuronsuur die vel opplomp sodat lyntjies ligter lyk. Vermy dit ook om gereeld hardhandig aan jou oë te vryf en dra altyd ’n sonbril wanneer jy in die buitelug is.

Droogheid en rooiheid

Die oorsaak:

Omdat die vel rondom jou oë dun is en minder oliekliere bevat, is ekstra hulp nodig om die vel hier vogtig te hou. ’n Verlies aan vog beteken vel voel droog en geirriteerd en fyn lyntjies wys vinniger. Die gebruik van verkeerde produkte en die hardhandige verwydering van ooggrimering kan ook lei tot rooiheid en droogheid.

Die oplossing:

Soek vir ’n oogroom met galambotter, seramiedes en hialuronsuur om jou vel te voed en bevog. As jy in jou vroeë 20's is en wonder watter oogroom om mee te begin, is 'n bevogtigende een jou beste opsie, sê Yolandé.

Wenk!

Gebruik jou ringvinger en tik jou oogroom liggies op die vel reg rondom jou oë aan. 'n Ryskorrel-grootte produk is genoeg vir albei oë. Wend jou oogroom ná 'n serum, maar voor jou dagroom en sonskerm aan.

Kies jou oogroom

Deesdae word die meeste oogrome ontwikkel om meer as een kwessie aan te spreek. Probeer een van dié top-opsies:

1. Sakpas: Die African Extracts Rooibos Advantage Rejuvenating Eye Cream (R181) is propvol natuurlike bestanddele asook ligweerkaatsende deeltjies om vel te bevog en verhelder.

2. Alles-in-een: Die Clarins Total Eye Lift (R1 080) behandel pofferigheid, donker kringe, fyn lyntjies én verferm.

3. Vir jou 50’s+: Peptiedes, stamselle en hialuronsuur in dié kragtige formule help om die voorkoms van dieper laglyne te verbeter - NeoStrata Skin Active Intensive Eye Therapy (R1 110). By uitsoek estetiese salonne of dermastore.co.za

4. Vir ’n besige leefstyl: Die unieke soliede formule van Filorga Optim-Eyes Refresh (R430) kan jy direk op jou oog-gedeelte aansmeer om tekens van moegheid te beveg. Ideaal vir jou handsak! By uitsoektakke van Edgars, Edgars Beauty en Clicks

5. Voor ’n spesiale geleentheid: Wend die Kalahari Hydrating Collagen Eye Patches (R48) vir 15 minute onder jou oë aan vir vars, bevogte oë in 'n kits. By uitsoeksalonne en -spa's of kalaharilifestyle.com