Die Australiese skoonheid Miranda Kerr het die pragtigste, stralende vel. In ’n onlangse onderhoud met die leefstylwebblad MyDomaine het sy haar velsorgritueel verklap. Sy borsel haar lyf! “Dis ’n wonderlike manier om jou bloedsirkulasie aan te help en dooie velselle te verwyder,” sê sy.
Droogborsel was reeds in die antieke tyd gewild, toe dit voor die badritueel uitgevoer is. Dis ideaal om selluliet te verminder, dooie velselle af te skilfer en van gifstowwe ontslae te raak.
Hoe werk droogborsel?
Wanneer jou limfstelsel gestimuleer word, help dit om afvalstowwe in jou lyf te dreineer. Só kan dit selluliet en waterretensie verminder. Om die werking van die limfstelsel aan te wakker kan jy daagliks jou lyf met ’n droë lyfborsel of growwe handskoen borsel voordat jy bad of stort. Begin by jou voete en borsel opwaarts, omdat jou limf in dié rigting vloei. Net 5 minute per dag is genoeg.
Wend ’n voedsame olie aan jou lyf voor jy begin droog borsel. Dit sal jou vel lekker voed en sag laat.
Voordele:
1. Limfatiese ondersteuning
Ons limfstelsel vorm ’n belangrike deel van die immuunsisteem. Baie van die weefsel sit reg onder ons vel. Droogborsel stimuleer die vloei van die limf (vloeistof) in die weefsel, wat tot die uitskeiding van gifstowwe lei.
2. Afskilfering
Droogborsel help om van dooie velselle ontslae te raak. Dit werk droogheid teen en laat jou vel sag voel.
3. Skoon en kleiner porieë
Droogborsel help om ontslae te raak van die vuiligheid en oortollige olie wat jou porieë kan verstop.
4. Verminder selluliet
Omdat afvalstowwe gedreineer word, vertoon selluliet minder opsigtelik.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET