Die gonswoord die laaste jaar is skoonheidsaanvullings, hetsy in pilvorm of as drankie, wat beloof om jou vel en hare van binne ’n hupstoot te gee.

“Dis omdat verbruikers nou ’n meer holistiese benadering volg, ook as dit kom by velsorg,” sê Devlin Perry, eienaar van The Skin Co. in Kaapstad. Dié nuwe, unieke gesondheidskafee – ’n eerste ter wêreld – bedien sedert sy opening in Januarie ’n verskeidenheid sappe, smoothies, warm drankies en ontbyt- en middagete-opsies verryk met aktiewe velsorgbestanddele. “Ons gebruik hoofsaaklik kollageen, hialuronsuur en resveratrol, wat onderskeidelik vel van binne herstel en verferm, opplomp en beskerm teen skade.”

Verskeie skoonheidshuise maak aanvullings nou deel van hul produkreekse. Die plaaslike velsorghuis Dermaclinical bied suiwer kollageenpoeier wat jy by ’n drankie inmeng, en QMS Medicosmetics pille met kollageen, vitamiene en die koe¨nsiem Q10 om selvernuwing te bevorder. Onlangs het Heliocare kapsules bekend gestel met Fernblock, ’n bestanddeel wat van binne jou vel se DNS teen sonskade beskerm.

MAAR WERK DIT?

Volgens Yolandé Swanepoel, programhoof van estetiese dermatologie by die Isa Carstens Akademie, já. “Buiten velsorg van buite, het jou vel minerale en vitamiene van binne nodig om te verseker dat elke velsel optimaal funksioneer en gesond is. Kliniese studies het al gewys dat goeie aanvullings selfunksionering verbeter.”

WENK

Raadpleeg jou dokter voor jy ’n hialuronsuur-aanvulling drink. Nie almal kan dit neem nie en dit moet bv. vermy word as jy swanger is of borsvoed.

Probeer die produkte:

QMS Medicosmetics Collagen Intravital Plus (R750 vir 60 kapsules). By uitsoeksalonne en -spa's

Dermaclinical My Skin Younger Pure Collagen Hydrolysate (R395 vir 75 g). By www.dermaclinical.net

Heliocare Ultra Capsules Oral (R450). By uitsoeksalonne, estetiese klinieke en dermatoloë