Sodra ons vel droog en styf begin voel, reik ons na ’n dik, ryk vogroom om droogheid te streel. Dit kan egter op die lange duur jou vel van binne net nog meer uitdroog, volgens die Isa Carstens Akademie.
“Te veel vogroom op die oppervlak kan veroorsaak dat jou vel as’t ware lui word omdat dit voortdurend seine ontvang dat dit nie nodig is om homself van binne te bevog nie. Jou vel se natuurlike waterreserwes word dan ál minder en die afskilfering van dooie velselle, wat sorg vir ’n gladde, helder gelaat, word vertraag.”
Wees op die uitkyk vir vogrome wat hialuronsuur, retinol of alfahidroksisure bevat omdat dié bestanddele jou vel se natuurlike vernuwingsprosesse aanwakker.