Inperking of nie, tyd staan nie stil nie, of beslis nie vir aktrise Marguerite van Eeden van Vaselinetjie-faam nie. En al het die Covid-19-pandemie die bedryf tot stilstand gedwing, het dié honneurstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch vinnig aangepas.
Ja, wanneer hierdie vreemde tyd van inperking verby is, sal Marguerite ongetwyfeld ’n lang lys van doendinge kan aftik. “Ek het begin foto’s neem, so dit is flippen lekker. Ek het ’n paar portrette begin neem vir my vriende en couple shoots, uiteindelik wil ek baie graag troues doen. En ek lees weer, ek is só mal oor lees, so ek kan nou lekker lees. Ek lees en dan drink ek tee en ek werk bietjie. Ek en Danie [du Toit van Spoegwolf] het ’n paar goed saam begin doen soos Middernag met Marguerite.”
Sy gesels met ander in die bedryf oor hul drome, wense en nagmerries. Die lekkerste, mees insiggewende gesprekke vind juis soms op die vreemdste tye plaas. “Dis basies net ’n show wat ek en Danie en Damiane van Reenen besluit het om te doen. Ons praat met mense om middernag in die kombuis van my klein woonstel, en ons vra vir hulle vrae wat ’n mens nog altyd wou vra.”