Toe Gabrielle “Coco” Chanel in 1921 haar eerste parfuum bekend gestel het, het niemand gedink dat Chanel No. 5 die geur van die eeu sal word nie. ’n Parfuum wat 100 jaar later steeds wêreldwyd ’n topverkoper is, waarvan die samestelling byna onveranderd gebly het en ’n bottel elke 30 sekondes verkoop word. Verweef in ’n bottel Chanel No. 5 is ’n tapisserie van stories, van goeie en minder goeie tye, maar dit bly steeds ’n baken van luuksheid en moderniteit. Iets om te koester soos ’n stukkie goud. Dalk is dit waarin die geheim van No. 5 se langlewendheid skuil? In elke herinnering en koestering; ’n gemeenskaplike fassinasie met ’n droomgeur oor generasies heen. Dít maak Chanel No. 5 ook ’n geur vir die toekoms.

CHANEL SE VISIE

Chanel No. 5 het die geur van vroue vir altyd verander. Net soos wat Coco revolusionêr was met haar modeontwerpe, wou sy ’n moderne parfuum skep wat spreek tot die droom van vroue om vry te wees. In die 1920’s het vroue hoofsaaklik parfuums gedra wat na ’n enkele blomnoot geruik het. Coco het geglo dis die perfekte tyd vir ’n geur wat ruik soos ’n vrou – skoon, sensueel, misterieus.

Oomblikke uit die nuwe Chanel No.5-advertensie met Oscar-wenner Marion Cotillard. FOTO’S Getty Images / Gallo Images & YouTube

HET JY GEWEET?

Nie net was “5” Coco se gunstelingsyfer nie, maar dit was ook die nommer op die flessie van die geur wat sy gekies het uit die tien opsies wat die parfumeur aan haar voorgelê het.

ABSTRAKTE PARFUUM

Die parfumeur wat Coco se visie lewe gegee het, was Ernest Beaux, ’n chemikus wat voorheen parfuums vir die Russiese tsarinas geskep het. Hy het sy inspirasie vir Chanel No. 5 geput uit die Noordpoolsirkel waar die mere en riviere ’n unieke vars geur afgee. Om dit na te boots het hy kosbare natuurlike blomnote soos jasmyn, meiroos, ilang-ilang en lemoenbloeisel gekombineer met ’n oorvloed aldehiede – sintetiese stowwe wat ’n parfuum verryk, byna soos wat suurlemoen die smaak van aarbeie beklemtoon. Aldehiede maak ook ’n parfuum meer kompleks. So het ’n abstrakte parfuum ontstaan wat die chemie van geure op sy kop gekeer het. ’n Geur wat ruik na vroulike blomme sonder dat ’n enkele een uitstaan, en tegelyk ook skoon, eenvoudig en klassiek.

Gabrielle “Coco” Chanel FOTO Getty Images / Gallo Images

UNIEKE BOTTEL

Een van die kenmerkendste aspekte van Chanel No. 5 is die bottelontwerp. As teenvoeter vir die oordadige parfuumbottels van daardie tyd het Coco ’n simplistiese ontwerp gekies, ge nspireer deur die eenvoudige lyne van ’n heupfles. Sy wou haar parfuum verpak in ’n deursigtige, “onsigbare” bottel gemaak van dun glas; die doppie van die begin af getooi met Chanel se dubbele C-kenteken. Oor die jare is die oorspronklike ontwerp e ens aangepas, maar dit herinner vandag nog aan die eerste een.

SPLINTERNUUT

Ter viering van hierdie mylpaal het Chanel pas die Factory 5 Collection bekend gestel: ’n luukse reeks lyfprodukte gegeur met No. 5, met verpakking ge nspireer deur alledaagse voorwerpe soos ’n teeblik, verfpotjie en selfs ’n oliekan. “’n Herinnering dat Chanel No. 5 die gewone buitengewoon maak,” s die skoonheidshuis. Die sterprodukte sluit in ’n lyfwas, badtablette, ’n lyfolie en twee lyfrome. Vanaf 29 Julie vir ’n beperkte tyd beskikbaar by die Chanel-boetieks in Sandton City en die V&A Waterfront asook uitsoektakke van Woolworths.

FOTO Chanel

3 vrae aan Chanel se meesterparfumeur

Olivier Polge, verklap meer oor die huis se mees ikoniese skepping.

1. Waaraan skryf jy Chanel No. 5 se sukses toe?

No. 5 het ontstaan vanuit ’n weelderige en misterieuse samestelling van blomme wat mekaar komplementeer sonder dat ’n enkele een werklik herkenbaar is. Daarby was die manier waarop aldehiede gebruik is om die natuurlike bestanddele te aksentueer ongelooflik modern. Ek glo die langdurigheid van Chanel No. 5 kan toegeskryf word aan dié abstrakte eienskappe en die misterie rondom die note.

2. Wat sê No. 5 oor die vrou wat dit dra?

Wat ons met geur uitdruk, kan nie in woorde omgesit word nie. No. 5 is ’n wonderlike kenmerk van jou persoonlikheid. Vroulikheid, elegansie, verfyndheid, diepte en ’n element van misterie is woorde wat by my opkom as ek aan die Chanel No. 5-vrou dink.

3. Hoe hou Chanel die geur modern?

Chanel No. 5 sal altyd modern bly. Tog laat nuwe interpretasies ons toe om No. 5 op nuwe maniere te gebruik. Omdat die identiteit van No. 5 so sterk is, is dit maklik om met variasies van die verskillende aspekte van die geur te speel.

BEKENDE GESIGTE

In die sestigerjare is die Franse aktrise Catherine Deneuve (heel links onder) as die eerste gesig van Chanel No. 5 gekies. Sedertdien het aktrises Carole Bouquet, Nicole Kidman en onlangs Marion Cotillard (naaslinks tot regs) in haar voetspore gevolg – elkeen ’n simbool van glans en verleiding. Die legendariese Marilyn Monroe is in 2013 – 50 jaar ná haar dood – ook as ’n gesig van Chanel gekies.

FOTO’S Chanel

MY CHANEL NO. 5-HERINNERING . . .

Jan Hendrik van der Westhuizen, Michelinster-bekroonde sjef:

“Chanel No. 5 sê vir my dadelik wie aankom. Sodra ek die whimsical geur ruik, dan weet ek: Aha, my moeder is naby. Dit spreek vir my van ’n sterk vrou en dis ’n geur wat ek respekteer. En ek dink Coco het ’n groot rol daarin gespeel.”

Liani Jansen van Rensburg, SARIE se digitale inhoudsbestuurder:

“Ek was 13 toe Chanel my die eerste keer bekoor het. ’n Program het op TV gewys, die advertensies het gevolg . . . en toe gebeur dit. Nicole Kidman hardloop verby flitsende kameras en spring in ’n geel taxi in . . . Van daardie dag af is ek kinderlik opgewonde oor ’n nuwe Chanel No. 5-veldtog. Die gesigte het gekom en gegaan. Elkeen het die parfuum op hul unieke manier verteenwoordig. En dís presies wat Chanel No. 5 is. Elke vrou dra dit anders, maar die magic bly dieselfde!”

Dave Pepler, ekoloog en parfuumliefhebber:

“My Chileense vriendin Maria-Inez Miranda dra haar lewe lank slegs Chanel No. 5. Jare gelede, in Kent, Engeland, kom sy trapaf. Ek kyk op en sê: ‘You are looking particularly lovely today, Mim.’ Sy antwoord: ‘Si, I know.’ Net ’n vrou wat Chanel No. 5 dra, kan só antwoord.”

100 jaar van inspirasie

  • 1921: Gabrielle “Coco” Chanel stel haar eerste fyngeur, Chanel No. 5 Parfum, bekend

  • 1924: ’n Ligter Eau de Toiletteweergawe, ook geskep deur Ernest Beaux, sien die lig en No. 5 begin internasionale aanhang kry, veral in Amerika.

  • 1929: Slegs agt jaar nadat dit geskep is, word Chanel No. 5 die wêreld se topverkoper-parfuum

  • 1937: ’n Foto van Coco, afgeneem in haar woonstel in Parys, verskyn in ’n advertensie vir die modehuis en parfuum.

  • 1945: Ná die Tweede Wêreldoorlog staan soldate in rye buite die Chanel-boetiek in Parys om ’n bottel Chanel No. 5 te koop as geskenk vir hul geliefde in hul tuisland.

  • 1952: Toe ’n joernalis haar vra waarin sy slaap, verklap Marilyn Monroe dat sy slegs vyf druppels Chanel No. 5 bed toe dra.


  • 1954: Op 14 Junie verskyn die eerste Chanel No. 5-advertensie in Suid-Afrika in SARIE (toe nog Sarie Marais).

  • 1959: Die simplistiese wit-en-swart boks waarin Chanel No. 5 verpak word, word deel van ’n permanente versameling in die Museum of Modern Art (MoMA) in New York.


  • 1985: Andy Warhol skep ’n reeks syskerm-drukwerke van die bottel getiteld “Ads: Chanel”.

  • 2004: Nicole Kidman bekoor as die gesig van die geur in die romantiese advertensiefilm Chanel No. 5: The Film deur regisseur Baz Luhrmann.

  • 2008: Jacques Polge, meesterparfumeur van Chanel, herinterpreteer die oorspronklike geur met die toevoeging van onder meer muskus in No. 5 Eau Première (regs bo)

  • 2016: Jacques Polge se seun, Olivier, volg hom op as Chanel-parfumeur en skep ’n varser weergawe genaamd Chanel No. 5 L’eau.

  • 2021: Die wêreld se bekendste parfuum vier sy 100ste bestaansjaar!

* BYKOMENDE BRONNE: The Secret of Chanel No. 5: The Intimate History of the World’s Most Famous Perfume deur Tilar J. Mazzeo