Mense wat gewoonlik oorgewig is of ’n voller voorkoms het, is geneig om jonger te lyk. 

Die rede hiervoor is eintlik voor die hand liggend, soos wat ons ouer word, verloor ons outomaties vetmassa. Gelaatstrekke soos ons lippe en wange lyk meteens nie meer so vol en rond nie, maar eerder dun en ingesonke. Dus word vol, gedefinieerde lippe sowel as mooi ronde wange met jeugdigheid geassosieër. 

Wanneer ons so bietjie meer as gewoonweg weeg skep dit ’n meer jeugdige voorkoms. Sodra ons begin om die ekstra kilos af te skud, lyk ons oë en wangbene ingesonke en ons lippe dunner sonder enige volume.

ONTHOU

Velveroudering en ’n verlies aan velelastisiteit gaan hand aan hand saam. Sodra ons ouer word en gewig verloor, verloor die vel die volume wat dit goed help ondersteun het. Daarom word plooie en lyntjies nóg meer sigbaar.


Jou oplossing

Werk dié probleem teen deur die algemene jeugdige voorkoms van jou vel soos volg te prioritiseer: 

1. Gesigbehandelings:

Dit verskaf belangrike voeding en stimuleer genesing sodat jou vel juis jonger lyk.

2. Fillers: 

Dís jou kitsoplossing om verlore volume terug in jou vel te ploeg. Fillers wat uit hialuronsuur bestaan werk goed aangesien dit natuurlik in jou liggaam voorkom en met tyd afbreek. Stel dit op die proef om ’n ingesonke voorkoms vinnig reg te ruk.

Measuring spoon with collagen powder or alginate m
FOTO Getty Images / Gallo Images

3. Drink genoeg water:

As jy graag onnodige veroudering wat op jou gesig sigbaar is wil vermy, is dit belangrik om gehidreerd te bly. Water help om jou vel gehidreerd te hou, wat jou vel elasties en plomp sal laat. Dít help om fyn lyntjies en plooie te versag.

4. Eet slim:

Sluit kossoorte in wat help om jou ingewande gesond te hou. Olyfolie, salm, klapperolie en avokado is voordelig vir jou ingewande en sal boonop help om jou vel stralend te laat. “Jou vel bestaan uit biljoene selle wat voortdurend besig is om te vernuwe, daarom is dit noodsaaklik om só te eet sodat jy jou selle kan beskerm,” sê Amelia Freer in ’n aanlynartikel oor velveroudering.

5. Fokus op ’n gewig wat jy maklik kan onderhou:

Sodra ons konstant verskeie diëte op die proef stel en aanmekaar gewig verloor en weer vinnig optel, is dit nadelig vir ons velelastisiteit.

Sodra ons gewig konstant min of meer dieselfde bly, help dit ook om te verseker dat die vet in ons gesig gebalanseerd bly. Sogenaamde “yo-yo dieting” het die teenoorgestelde effek. Jy ken jou lyf, vermoëns en wat vir jou haalbaar is.

Fokus daarom op ’n gewig wat jy sal kan onderhou en bly daarby. 

6. Kollageenaanvullings:

Die vervaardiging van kollageen neem af soos wat ons ouer raak. Neem daagliks kollageenaanvullings wat sal help om jou vel te versterk sowel as om ’n sagte, egalige gelaat te skep. 

Volgens ’n mediaverklaring van dr. Grandel kan jy ook jou vel masseer om kollageenvervaardiging te help stimuleer. “Wanneer jy jou gesig masseer bevorder dit die vloei van beide suurstof en bloed in die vel. Dit verminder pofferigheid, maar skep ook ’n helder gelaat.”

Vitamien C kan ook help om kollageenvervaardiging ’n hupstoot te gee sowel as om die afbreek daarvan as gevolg van sonblootstelling, te vermy, benadruk die mediaverklaring.

Measuring spoon with collagen powder or alginate m
FOTO Getty Images / Gallo Images

Bronne: www.sciencetimes.com, www.oralift.com, www.nowtolove.com