As dit by hare kom is Hannon Bothma opgewonde. “Skielik is mense meer oop om te eksperimenteer met nuwe haarstyle. Baie vroue, wat nog altyd lang hare gehad het, probeer nou skielik ’n gewaagde, korter styl.”

Hoekom? “Die wêreld het ons forseer om in baie opsigte te moet konformeer. Maar ons het steeds vryheid as dit kom by voorkoms en haarlengtes.”

Glam Guru reken ’n pixie-styl is jou geheime wapen. “’n Kort pixie laat vroue energiek en vars lyk. In die proses kan jy weer jou kortstyl uitgroei en jy het bykans elke week ’n ander voorkoms.”

Hy is ook mal oor die tendens dat vroue hul gryshare omarm. “Daar is deesdae ook vele skakerings van grys, wat verhoed dat gryskoppe verveeld raak met hul eie haarkleur.”

En om jou natuurlike haartekstuur te omarm maak hom sielsgelukkig. “Ek is boonop ook baie opgewonde oor die tendens om jou natuurlike haartekstuur te gebruik en nie noodwendig jou reguit hare permanent te laat golf of jou krulhare chemies te laat verslap nie.”

Hoewel styl persoonlik is, kan ’n mens inspirasie by ander put. Watter bekende reken Hannon het goeie styl?

“Daar is twee onveranderlikhede waarteen ons nie kan stry nie: Die Aarde gaan bly draai en terwyl dit draai gaan modes en tendense konstant verander,” sê Hannon.  

“Vir inspirasie ten opsigte van nuwe tendense, kyk ek graag wat sangeresse Miley Cyrus en Rihanna doen om gereeld splinternuut te lyk. Nie een van die twee is bang om elke nou en dan heeltemal weg te breek van hoe hul aanhangers hulle ken nie. Miley se nuutste haarstyl wat ek gesien het, was ‘n “mullet” – kort bo en langs die kante en lank agter,” vertel hy verder. 

Rihanna is ook ’n verkleurmannetjie. “Sy het nog een oomblik lang meerminlokke gehad en skielik was die hare kort weggeskeer langs die kante met ’n astrante mohawk bo-op die kop.”

En wie kan van Madonna vergeet? “Ek kan ook nie genoeg kry van hoe Madonna haar grimering gereeld verander nie. Soms lyk dit of haar boonste ooglede amper deurskynend helder en jeugdig is en ander kere kan sy weer soos ’n regte middeleeuse heks lyk. Beide is vir my mooi en wanneer ek deur ’n voorkoms gefassineer word, soek ek altyd na mense op wie ek dit kan beproef.”

- Glam Guru wys elke Sondag om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).