Karl Lagerfeld, dís wie hy sou oornooi vir ’n koek-tee-en-klets-sessie. En hoekom nou juis die ontslape kreatiewe direkteur van Chanel? “Om by hom te hoor hoe hy dit reggekry het om ouderdom met soveel flambojansie en grasie te kon aanpak.”

Madonna sal ook dié lys haal. “Ek wil dan sommer by haar hoor waar haar eie inspirasie vandaan kom as sy haarself elke keer herbekend stel.”

En dan sal Shudufhadzo Musida, ons eie Mej. Suid-Afrika, ook genooi word. “Ek wil met haar gesels oor haar filosofie aangaande natuurlike skoonheid.”

Hannon bieg: “Ek glo eintlik dat skoonheid van binne botteltjies en buisies kom en dat natuurlike skoonheid baie raar is. So om juis met iemand te gesel wat se hare glad geskeer is, sal beslis my horisonne verbreed.”

Die 20ste seisoen van Glam Guru het pas op kykNET (DStv-kanaal 144) – elke Sondag om 17:30. Dis die tweede seisoen wat tydens Covid-19 geskiet was. Dis juis in hierdie seisoen wat hy die werklike impak van die pandemie op mense gesien het … mense wat moedeloos geraak het, wat harde houe gekry het en die hartseer van die lewe beleef het.

In hierdie reeks word huidige kwessies en uitdagings heeltyd in gedagte gehou. Kykers kan dus praktiese wenke en raad in oorvloed verwag.

Ons het sommer self vir dié ghoeroe ’n paar vrae oor gevra oor skoonheid en welwees tydens ’n pandemie:

1. Die finansies knyp. Watter grimeerwenke het jy vir iemand met ’n klein begroting?

Indien jy steeds elke dag met ’n mooi, gegrimeerde gesig wil aandurf, is veeldoelige grimering jou oplossing. ’n Blosser is ook ’n uitstekende oogskadu en sal die kleur van jou oë baie mooi en helder laat uitstaan. ’n Lipstiffie kan ook gebruik word as ’n roomblosser en roomoogskadu as jy dit so effens met jou vingers versprei. ’n Lippotlood kan ook jou lipstiffie wees, indien jy jou hele mond daarmee inkleur. 

  

2. Jy beveel ook eintlik net ’n basiese grimeervoorkoms aan. Vertel meer.

Dit bestaan uit 5 produkte:

  • ’n Onderlaag, om jou gelaatskleur meer eweredig te laat vertoon.
  • ’n Wenkbroupotlood, om jou wenkbrouvorm beter te definieer.
  • ’n Swart water-en-smeerbestande maskara om jou oë groter en wakkerder te laat vertoon.
  • ’n Blosser wat ’n bietjie kleur aan jou gesig verleen. Jy kan dit net op die appels van jou wange aanwend en ook sommer inspan as oogskadu, indien jy dit net liggies aan jou boonste ooglede aanwend.
  • En dan laastens kan jy met jou lippotlood jou hele mond inkleur.

Indien jy tyd en ekstra finansies het, kan jy belê in addisionele oogskadus en selfs lipstiffies, maar my basiese grimeervoorkoms is vinnig en baie effektief om jou net ’n bietjie meer lewenslustig te laat lyk. 

 

3. Ek kan nie ’n makeover bekostig nie, maar wil graag my voorkoms verander. Wat is die een ding wat ek kan doen om ’n dramatiese verskil te sien, sonder om ’n bank in die proses te beroof?

Soek op Youtube en Pinterest vir enige haarstyl-inspirasie. Daar is niks wat jou voorkoms soveel trefkrag en vernuwing gee as om iets met jou hare te doen nie. ’n Drastiese haarkleurverandering sal jou splinternuut laat lyk en ook sorg dat jy met nuwe oë na jou hele voorkoms en jou klerekas kyk. ’n Haarstylverandering kan so gering wees soos om vir jou ’n kuif te laat sny of dit kan so radikaal wees soos om jou lang hare in ’n kort modieuse pixie-styl te laat sny. Indien jy glad nie finansies het om ’n groot haarstyl- en haarkleurverandering te ondergaan nie,  kan jy bloot eksperimenteer om jou bestaande styl op verskillende maniere te stileer. Daar is soveel videos op sosiale media van wat jy alles kan doen om reguit hare te laat krul, krul hare reguit te maak en lang hare in verskillende style vas te maak. En dan is daar natuurlik helder lipstiffie. Jy sal nie glo watter impak dit kan maak op jou gesig veral as jy altyd baie ligte en neutrale lipkleure gedra het nie.

 

4. En velsorg op ’n begroting. Daar is duisende produkte op die mark en talle velsorgstappe. Wat is broodnodig en wat kan jy (tydelik) los?

’n Basiese velsorgroetine bestaan altyd uit ’n reiniger, daarna ’n saamtrekmiddel (toner) en laastens ’n vogroom wat verkieslik ’n sonbeskermingsfaktor van minstens 30 moet bevat. Hierdie 3 stappe is nie onderhandelbaar nie. Sorg net dat jou sonskermvogroom olievry is, sodat jy dit tot naby jou oogarea kan aanwend as jy nie meer ’n oogroom het nie. Jy hoef nie die duurste velsorgreeks op die mark te gebruik nie, maar soek ten minste ’n betroubare handelsnaam, sodat jy gemoedsrus het dat alles wat jy gebruik effektief sal werk. Dis saans wanneer jy slaap wat jou vel homself regenereer so jou nagsorgroetine is baie belangrik vir voeding. Ek sou dus aanbeveel dat jy probeer om ’n nagserum aan te skaf, wat sommer ’n hele rits produkte sal vervang. Die regte nagserum moet bestaan uit alpha-hidroksiesure, wat jou vel sal afskilfer vir ’n meer ewerige gelaatskleur en tekstuur. Dis sal selfs jou vergrote porieë verklein. Met só ’n nagserum het jy nie eers ’n addisionele vogroom of nagroom nodig nie en dis nogal ’n groot besparing. Met die regte keuses kan jy dus vir ’n tydperk ’n gesigmasker, oogroom en selfs afskilferaar los. Jy sal egter vinng sien as jou vel meer nodig het, want jou vel jok nooit. 

 

5.  Jou wenk vir enige iemand wat sukkel om weer die mooimaak-motivering te kry ná ’n moeilike jaar soos 2020.

Ons almal kry dae wanneer jy net jou duvet oor jou kop wil trek en nie die dag se verantwoordelikhede in die oë wil kyk nie. Dis juis op súlke dae wat jy moeite moet doen met jou voorkoms, want as die spieël sê jy lyk mooi, voel jy onmiddellik meer soos ’n oorwinnaar (wenner) eerder as ’n slagoffer. Jy moet jouself op jou beste laat lyk vir selfbehoud, want die alternatief is veel erger. Dalk is skoonheid net veldiep, maar dis beslis diep genoeg om saak te maak en om jou toekoms beter te maak. Die oomblik as ’n mens meer positief lyk, voel jy meer postief en straal jy postiewe energie uit. Positiewe mense trek positiewe geleenthede aan, so jou postiewe voorkoms kan vir jou deure oopsluit. Om op ’n manier weer balans te kry in jou lewe sal grootliks daartoe bydra, dat ons weer spoedig soos ons ou self voel en lyk. Maak tyd vir oefening en jou familie. Werk hard wanneer jy moet, maar maak tyd om jouself te beloon met iets wat vir jou lekker is soos om saam met vriende te kuier. Wees oordeelkundig met wat jy eet en drink, want as jou gewig uit beheer raak, raak dit al hoe moeiliker om weer beheer terug te kry. Om weer mense te sien en omring te word deur andere, is ook ’n goeie dryfveer om twee keer na jouself te kyk voor jy by jou huis uitloop.


- Glam Guru wys elke Sondag om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).