Die strewe na volhoubare, gesonder en omgewingsvriendelike produkte en vervaardigingsmetodes onder handelsmerke en verbruikers is lankal nie meer net ’n tendens nie, maar ’n beweging; ’n leefstylbesluit wat hier is om te bly.

Tog is dié ideaal nie ’n eenvoudige taak nie, gee Nicole Waso, plaaslike opleier vir die skoonheidshuis Lush in Suid-Afrika toe. “Daar is soveel aspekte wat ’n rol speel by die volhoubaarheid van ’n produk. Jy moet dink aan vrae soos: Hoe word elke afsonderlike bestanddeel aangeskaf en getoets? Word diereprodukte in die formule gebruik? Hoeveel water word tydens die vervaardiging gebruik? Is die verpakking maklik herwinbaar of herbruikbaar? En wat is die koolstofvoetspoor van die produk [hoe ver moet dit vervoer word ná vervaardiging]? Dit is om maar net ’n paar te noem.”

FOTO Unsplash

Daarby is dit ook belangrik dat verbruikers touwys gemaak word om byvoorbeeld produkte korrek te herwin sodat die volhoubaarheidspogings nie doodloop sodra dit in hul hande is nie.

Gelukkig raak al hoe meer handelsmerke, groot en klein, bewus van hul impak op die aarde en sien ons tans ’n ontploffing van skoonheidsreekse wat volhoubaarheid hul prioriteit maak. “Ja, daar is gevalle waar handelsmerke woorde soos natural en clean bloot as ’n bemarkingstegniek gebruik,” sê Nicole. “Maar ek dink die beste ding wat ’n handelsmerk kan doen, is om te erken dat hulle nie perfek is nie en nie noodwendig in elke aspek van volhoubaarheid gaan slaag nie, maar steeds aanhoudend sal probeer om waar hulle kan te verbeter.”

WAT KAN EK DOEN?

Nicole se raad aan verbruikers is om soveel as moontlik navorsing te doen oor volhoubare skoonheidsprodukte en die reekse waarin jy belangstel voordat jy ’n winkel besoek. “Andersins kan jy maklik oorweldig word deur die magdom keuses.” En onthou, jy hoef net met een volhoubare produk in jou skoonheidskas te begin om al klaar ’n verskil te maak.