Nou, ná die warrelwind van Boer Soek ’n Vrou seisoen 13, is hulle ’n gelukkige paartjie. ’n Driewielfiets wat die wêreld se kronkelpaaie sáám aandurf. 

Chereze is nie vir een oomblik spyt dat sy ’n kans op nasionale televisie gewaag het nie. “Toe ek daai brief skryf, het ek nie gedink hier gaan ek ’n kêrel ontmoet nie, ekt nie eens gedink ek gaan in die Top-10 wees nie,” verklap sy aan SARIE.com se Suanné Mulder.

Nóg minder het sy gedink dat sy iemand soos Niel sou ontmoet het, met wie sy nou haar lewe wil deel. Die einste boer Niel wat die meeste briewe ontvang het. “My idee wat ek in my kop gehad het, toe ek inskryf, was om net hierdie kans te vat en myself buite my gemaksone te sit.”

FOTO Instagram / Chereze Maree

En buite haar gemaksone was sy beslis, want vóór die kameras maak jy jou hart en emosies oop. “Die feit dat ons altwee al seergekry het, het gelei tot die plek waar ons altwee was toe ons ingeskryf het.”

Die plek? Waar hulle 100% okei en gemaklik met hulself was.

“Ek dink nie ek of Niel het met die idee ingegaan van ‘ek kort nou iemand, ek kan nie langer single wees nie’. Dis nie waaroor dit gegaan het nie. Ek verwag niks van hom om myself beter te laat voel nie en hy verwag ook niks van my om hom beter te laat voel nie. Ons altwee weet wie ons is en die ander persoon is net so ’n ongelooflike beste vriend met wie jy nou jou lewe deel. Ons was albei op ’n goeie en tevrede plek. Dit is dalk hoekom ons só goed werk?”

FOTO Instagram / Chereze Maree

Sy bewonder Niel vir sy opregte eerlikheid en nederigheid. “Hy probeer om niemand te beïndruk deur goed te doen of te sê wat hy nie is nie. Dít staan vir my die meeste van hom uit. Hy het ’n vreeslike omgeehart, hy is familievas, hy is lief vir diere en die natuur.”

Terwyl die kameras vir die gewilde pasmaatprogram begin rol het, het Chereze gou besef dat sy regtig van Niel hou. “Ek het gesit en na hierdie man gekyk en daar was net daai skielike opgewondenheid van as ek nou die kans kan kry en as hy nou voel oor my soos ek oor hom voel, dan dink ek nogal hier kan iets moois van kom.”

En toe hy haar vra om aan te bly, was sy baie opgewonde. Maar sy en Niel het vir mekaar twee weke gegee om net seker te maak hul gevoelens is nie net verhoog en aangehits oor Boer Soek ’n Vrou.

Ná die periode het hulle albei net geweet ...

“Ek het toe besef dat ek regtig baie erg oor hierdie ou is. Dit was nou nie die kameras en die emosionele druk wat my laat verbeel het nie, ek is regtig mal oor hom. Toe hy my kort daarna uitvra, het ek nie eers twee keer gedink om ja te sê nie.”

FOTO Instagram / Chereze Maree

Wie is Chereze?

Chereze het BA Taal en Kultuur by die Universteit van Stellenbosch studeer, maar sy was nog altyd lief vir mooimaak. “In my tyd in Stellenbosch het ek my huismaats se hare mooi gevleg of hulle grimering mooi probeer doen. Ek was mal daaroor, dit was net vir my so lekker.”

Terwyl Chereze skoolgehou het, het sy deeltyds ’n grimeerkursus by Alicia Buckle School of Makeup voltooi.

Sy is lief vir kinders en het ’n passie om skool te gee, maar as grimeerkunstenaar kan sy haarself kreatief uitdruk en dís vir haar belangrik.

En watter gedeelte van haar werk staan vir haar uit? “Wanneer ek klaar iemand se hare of grimering gedoen het en hulle vir hulself in die spieël kyk, daai oomblik wat die persoon hul eie asem wegslaan en nie kan glo dis hulle nie. Ek enhance eintlik net hul eie gelaatstrekke, vroue is so hard op hulself en hulle vergeet partykeer hoe mooi hulle is.”

Bruide sit gereeld in Chereze se grimeerstoel. SARIE.com het besluit om met haar oor mooimaak te gesels.

FOTO Instagram / Chereze Maree Hair and Make Up

Grimering met Chereze:

Moets en moenies vir bruide …

* Stick to what you know

Moenie die week voor jou troue nuwe produkte of gesigbehandelings probeer nie. Jy weet nie watter uitwerking dit op jou vel gaan hê nie en dan sit jy dalk met ’n veluitslag op die dag van jou troue.

* Prioritiseer ’n proeflopie

Jy maak dit baie makliker vir die grimeerkunstenaar. Dan weet die grimeerkunstenaar vooraf watter onderlaag werk, watter oogkleur werk.

FOTO Inecke Photography

* Pasop vir die “geen grimering”-grimeervoorkoms 

Baie bruide soek die no makeup makeup look. Ek hou van ’n natuurlike grimeervoorkoms, maar dis belangrik dat ’n bruid onthou dat op jou foto’s lyk jou grimering baie ligter as wat dit in persoon lyk. Op jou foto’s gaan dit lyk of jy baie min grimering dra. So onthou om vir jou foto’s altyd ’n bietjie donkerder te gaan.

* Die beste grimeervoorkoms wat vir bruide werk 

Less is more, kry een ding waarop jy wil fokus. Ek vra altyd vooraf: Waarop wil jy fokus? Jou oë of jou mond? As ons ’n helder lip gaan doen, sou ek dalk ’n bietjie rustiger met die oë gaan. Of as jy regtig donker oë wil hê, dan sou ek sê gaan ons meer neutraal met die lip. Party bruide is gemaklik met ’n bold lip én oog en as jy gemaklik is daarmee, hoekom nie? Fokus daarop om jou natuurlike skoonheid te enhance.

Hare met Chereze

Moets en moenies vir bruide …

* Wees realisties

Moenie onrealistiese verwagtinge hê nie, baie keer sien ons hierdie ongelooflike haarstyle op Pinterest. Maar othou dat baie van daardie prentjies maak van haarverlengings gebruik. Neem jou haartipe en haardikte in ag.

* Kies mooi

Ek vra altyd vooraf of die bruid graag haar haarlengte wil wys of nie. Daarna kyk ons na haar rok en wat die beste daarby gaan pas.

FOTO April and July Photography

* Neem jou haarkleur in ag

 ’n Donkerkop gaan nie soveel tekstuur kan wys soos iemand met ligte hare nie. Dink maar aan ’n vlegsel-haarstyl by iemand met ligter hare.

* Moenie van die seisoen vergeet nie

Vermy byvoorbeeld ’n los styl in die winter as jou hare geneig is om frizzy te raak.

* Moenie jou haargesondheid afskeep nie 

Maak seker jou hare is gesond en geknip.

* Kies slim

Kies ’n haarstyl waarmee jy gemaklik is.

FOTO Verskaf

SKRYF IN VIR SEISOEN 14!

Suid-Afrikaanse boere wat na liefde soek kan nou vir die 14de reeks van Boer Soek ’n Vrou inskryf. 

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

• Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;

• Bel Marche Media by 079 335 5137;

• Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (let wel .media en nie .com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

• Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.

• Diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.

• Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.

• Hou kykNET se sosiale media of die media dop vir die aankonding oor 2022 se toptien boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.

• Die 14de reeks sal van Januarie 2022 op kykNET uitgesaai word.