Loop jy verby die winkelrakke waar al die leesstof lê, vang Simoné (Nortmann) Pretorius se SARIE-tydskrif voorblad dadelik jou oog. In heldergroen met aksente van goud wat haar foutlose haar- en grimeervoorkoms komplementeer, is sy beslis voorbladmooi. 

Die Johannesburgse haarstilis en grimeerkunstenaar, Alex Botha, deel so paar wenke vir Simoné se mooi grimeervoorkoms.

Alex het ’n oogskadupalet met pragtige brons ondertone gebruik. “Die donkerder (swart) skakering is net rondom die wimperlyn aangewend en dan met brons egalig uitgeskakeer.” Skakerings van bruin en brons is in die oogvoue gebruik met ligte brons in die binnehoeke van die oë om dit te verlig.

Maar die belangrikste van dié voorkoms is hope en hope maskara, sê Alex. Kies ’n gitswart maskara vir treffende wimpers met impak.

Simoné se wange is met ’n ligte, vloeibare onderlaag wat glinster-pigment bevat, verlig en gedefinieer. Alex het dit as ’n basislaag gebruik en daarna onderlaag wat maklik kan opbou vir meer bedekking, aangewend. ’n Tikkie blosser skep ’n vars en afgeronde voorkoms.

FOTO Marijke Willems

’n Ligte, rooskleurige lipglans gee haar lippe trefkrag en ’n pragtige natuurlike glans.

Alex het dié produkte gebruik:

Urban Decay Born to Run Eyeshadow Palette (R850) Beskikbaar aanlyn by urbandecay.co.za
L’Oréal Paris Paradise Extatic Mascara in Black (R200)
NYX Born to Glow Naturally Radiant Foundation (R139)
NYX Sweet Cheeks Creamy Powder Blush in Day Dream (R90)
Rimmel Oh My Gloss in Snog (R100)


By haar voorbladfotosessie het sy so paar skoonheidsvra beantwoord …

FOTO Marijke Willems

Wat is die beste skoonheidsbesluit wat jy al geneem het?

Ek dink dis ’n besluit wat jy nou maar implementeer, maar die beste skoonheidsbesluit wat ek al geneem het, was om elke aand voor ek gaan slaap my makeup af te haal, my gesig ordentlik te was. Om te belê in goeie produkte. Jy het net een vel!

Wat is jou gunsteling somerparfuum?

Ek is mal oor Sì van Giorgio Armani, maar ek dra dit al eintlik vir so twee jaar en ek kan net nie iets anders dra nie. So vir my winter, vir my somer, dís al my parfuums in een.

Giorgio Armani Sì (R1 425 vir 50ml EDT)

Wat is jou moet-hê produk vir die somer vir ’n glansende vel?

Lamelle se vitamien C serum. Ek sit my serum op nadat ek my gesig gewas het, dan sit ek my vogroom en my sonroom op. Vitamien C is ongelooflik vir ’n mooi glow!

Lamelle Correctives Vita-C Lipid Serum (R849)

Kyk net hier!