Op 30 trotseer sy daagliks die groeipyne van twee kleuters en twee tieners. “Dit is verskriklik uitdagend, maar die beloning oorskadu alles,” vertel die blondekop skoonheid.

FOTO Chris Joubert

Terwyl haar Springbok-man, Siya Kolisi, vir die Haaie uitdraf, staan Rachel die rol van ma vol vir hul twee krulkop-spruite, Nicholas en Keziah, en Siya se sibbe, Liyema en Liphelo. Die gesin gaan eers in Desember Durban toe trek. 

Te midde van die pandemie en die ontworteling van hul gesin, het Rachel een ding oor haarself geleer: Sy kan baie op haar eie vermag.

“Ons moedig mekaar altyd aan om alles saam te doen, wat natuurlik belangrik is, maar dis egter ook belangrik om te leer om die lewe op jou eie aan te pak.”

FOTO Chris Joubert

Met Siya wat gereeld vir lang periodes weg van die huis af is, is dit vir Rachel niks nuuts om die fort aan huis te hou nie. Maar dié keer is dit wel anders, dis 10 maande aaneen, ’n langafstand-huwelik tussen Durban en Kaapstad.

Geen wonder Mevrou Kolisi is opgewonde oor die groot trek nie.

“Ek is opgewonde vir ’n nuwe ervaring. As ek ooit Kaapstad moes verlaat, sou ek Durban gekies het.” 

Rachel is ’n diep gelowige en glo dat Jeremia 29 vs 11 gepas is vir hierdie einste seisoen waarin sy en Siya hulself bevind. “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.” 

FOTO Instagram / Rachel Kolisi

In April 2020 het Rachel en Siya die Kolisi-stigting begin, wat ’n postiewe verskil in gemeenskappe wil maak. Dit fokus op drie pilare: Voedselsekuriteit, geslagsgebaseerde geweld en die ontwikkel van opvoeding en sport. Tydens grendeltyd het hulle vir talle gemeenskappe kos ingesamel en uitgedeel.

“Ons het nie tyd vir klein doelwitte nie. Ons het nie tyd vir klein uitdagings nie. Die toestand van ons [Suid-Afrika] is desperaat,” verduidelik Rachel in ’n amptelike video op die stigting se webtuiste.

Sy sien uit om dié stigting verder voort te sit in haar nuwe provinsie, KwaZulu-Natal. 

In Kaapstad was Rachel ook aktief betrokke by Rise Women, ’n gemeenskap wat oefening, selfliefde en motivering onder vroue aanmoedig. Sy wil graag hierdie gemeenskap in Durban ook skep. “Ek is lief daarvoor om vroue bymekaar te bring en saam met hulle te wees. Dis beslis nie die einde van sulke tipe geleenthede nie.”

FOTO Instagram / Rachel Kolisi

Sy ken van klippe kou. Gebore in Mafikeng en getoë in Grahamstad, moes Rachel vyf werke gelyktydig beman om ’n tersiëre onderrig te kry. Danksy harde werk werf sy ’n graad in geleentheidsbestuur aan die Stellebosch-hotelskool.

Rachel is ná al die jare steeds mal oor uitdagings. En as selferkende introvert moes sy geleer het om ’n vertrek as Bok-vrou, medestigter, spreker, handelsmerkambassadeur en model vol te staan. “Dit bly uitdagend as ’n introvert om in vertrekke met baie mense te wees. Dis iets waaraan ek werk, dis ’n uitdaging, maar ek is mal oor uitdagings! Ek probeer om moeite te doen om met mense te gesels en om kalm in sulke situasies te bly.” 

FOTO Gary van Wyk Photography

Onlangs het Rachel en haar wederhelfte die rol van uitvoerende vervaardigers aangedurf. Hul eerste kortfilm is gebasseer op die Siphokazi Jonas-verhoogproduksie  #WeAreDyingHere, wat tydens grendeltyd opgevoer was en gefokus het op geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika. “Dis belangrik vir ons, as ouers, om hierdie gesprek nie net met ons dogters te hê nie, maar met ons seuns ook.”

Rachel en Siya is uitvoerende vervaardigers van die kortfilm #WeAreDyingHere FOTO Facebook / We Are Dying Here Film

Om ’n ouer te kan wees, is ’n voorreg, erken Rachel. Sy sal nie die hoofstuk anderste wou hê nie. Haar raad vir ander vroue in soortgelyke situasies? “As jou kinders lewe, dan is jy okei!” lag sy.

Maar op ’n ernstiger noot: “Moenie te veel druk op jouself plaas om konstant te voel dat jy alles met vlieënde vaandels moet slaag nie. As vroue raak ons te gou krities op onsself, ons moet onthou om mooi met onsself om te gaan.”

Rachel se skoonheid 101:

Suanné, SARIE se skoonheidsskrywer, kon nie die oomblik laat verbygaan sonder om Rachel te pols oor skoonheid nie.

Hoe definieer jy ware skoonheid?

Daar is vir my niks mooier as ’n vrou wat selfvertroue het en gemaklik in haar eie lyf is nie. Daar is skoonheid orals, maar ek glo dis wanneer ’n vrou gemaklik is met wie sy is, in haarself glo en haarself só dra. Sy steur haar nie aan ander se negatiewe kommentaar nie, want sy ag haarself waardig. Ons lewe in ’n tyd waar skoonheid aan die uiterlike verbind word, daardie stigma moet beslis verander. Ek glo dat elke vrou ware skoonheid verwesenlik.

FOTO Carmen du Bois

Jy voel op jou mooiste wanneer …

Ek klaar geoefen het! Sodra ek voedsame kos geëet het en lekker geoefen het, voel ek energiek, sterk, goed en mooi.

FOTO Instagram / Rachel Kolisi

Jou drie moet-hê velsorgprodukte:

1. Heliocare Color Gelcream Sunscreen (R370) 

Dit bedek my vel mooi, maar dit skep glad nie die gevoel dat my vel versmoor word nie.

2. NeoStrata Ultra Brightening Cleanser (R575)

Dis ’n wonderlike produk, daar is niks beter as ’n goeie reiniger om jou vel mooi skoon te hou nie.

3. NeoStrata Sheer Hydration SPF40 (R635)

Ek is mal oor vogroom. My vel raak maklik droog en dit help vir goeie bevogtiging.

Watter rol speel grimering in jou lewe?

Ek is lief daarvoor om myself mooi te maak en na ’n geleentheid toe te gaan. Ek glo dat grimering jou natuurlike skoonheid komplementeer. Om dit wat jy reeds het, uit te lig en te komplementeer. Soos byvoorbeeld ons almal het pragtige oë, maskara help om jou oë net meer oop te laat vertoon. Grimering is ’n vorm van kuns, dit is fenomenaal wat grimeerkunstenaars doen.

FOTO Instagram / Rachel Kolisi

Jou gunsteling parfuum?

Beslis Issey Miyake L’Eau D’Issey (R1 750 vir 50ml EDP). Dis my gunsteling geur en ek is mal oor die reuk. Sedert ek Covid-19 gehad het, sukkel ek nogsteeds om te ruik. So nou gebruik ek al die parfuums wat Siya al vir my gekoop het, waarvan ek nie so baie hou nie. Wanneer my reuksintuig wel beter is, dan is dit beslis Issey Miyake!”

Addisionele bronne: Kolisi Foundation & IOL