As dit by skoonheid kom, het ons almal reeds so paar moet-hê items in ons grimeersakkie wat ononderhandelbaar is. Met tyd ontdek ons ons gunstelinglipstiffie, -maskara en die lys gaan aan. Soms verklap ’n vriendin uiteindelik watter produk haar vel so mooi glansend laat of hoekom haar lipstiffie nooit smeer nie.

Maar nou wil die SARIE-skoonheidspan ook so paar geheime verklap, spesifiek sakpas geheime wat nie net voordelig vir jou sak gaan wees nie, maar óók jou voorkoms mooi sal komplementeer.

Skoonheidsredakteur Monica van der Walt beveel dié sakpas produkte aan:

Eucerin Hyaluron-Filler Moisture Booster (R300) - Dié serum is soos ’n slukkie water vir jou vel en sorg vir ’n plomp, gehidreerde voorkoms. Boonop hou dit lekker lank – een botteltjie het my byna vyf maande gehou. By Clicks.

Batiste Dry Shampoo Volume (R80) - Elke vrou behoort ’n droë sjampoe te hê vir daardie dae wat jou hare plat en leweloos lyk (of as jy ’n dag langer wil gaan sonder om jou hare te was). Hierdie droë sjampoe is maklik om te gebruik, ruik lekker en doen sy werk goed. Dit skep ook mooi volume by jou haarwortels. By Clicks.

Revlon ColorStay Eyeliner in Brown (R150) - Omdat ek groen oë het is ’n bruin oogpotlood my grimeergeheim. Net ’n gesmeerde lyntjie teen my wimperlyn beklemtoon my oë, maar lyk steeds subtiel en natuurlik. Dié potlood hou boonop ook lank.

Skoonheidskrywer Suanné Mulder hou van die drie sakpas produkte:

La Roche-Posay Effaclar Duo+ Skin Correcteur (R280) - Dié room is my geheime wapen om ’n veluitslag teen te werk. Aangesien ons maskers dra en maskne deurlopend ’n velkwaal bly, verrig dit in ’n kits wonders. Dit help om verstopte porieë te verlig, ’n veluitslag in toom te hou en merke beter te laat vertoon. Beskikbaar aanlyn by www.dermastore.co.za

Maybelline Instant Anti-Age Eraser Multi-Use Concealer (R200) - Vir merke, letsels, donker kringe en selfs ’n onegalige gelaat is ’n verbloemer jou antwoord. Dié oulike verbloemer werk met ’n draaimeganisme sodat die korrekte hoeveelheid formule op die aanwendingsponsie versprei word. Só kan ek my gelaat in ’n kits egalig en perfek laat lyk. Beskikbaar aanlyn by www.superbalist.com

Sorbet Lips Stay Put Lip Line-Up Duo Lip Liner (R80) - Om seker te maak dat jou lipstiffie nie smeer nie, kies ’n neutrale lipomlyner om jou lippe mee te omlyn en liggies in te kleur. Dít dien as ’n goeie basis vir jou lipstiffie vir ’n pragtige voorkoms met houkrag, selfs wanneer jy ’n masker moet dra. By Clicks.

Grimeerwerkswinkel: SARIE Mooi vir jou

Wil jy graag leer om jou grimering meer professioneel aan te wend? Raak jy ook gefrustreerd as die grimeerwenke in video’s en artikels net nie vir jou werk nie? Sluit dan Saterdag 12 Junie aan by SARIE vir ’n grimeerwerkswinkel, aangebied in samewerking met Catrice Cosmetics.


’n Professionele grimeerkunstenaar en SARIE se skoonheidsredakteur, Monica van der Walt, kom wys jou hoe jy produkte wat jy reeds het beter kan benut én hoe om ’n paar nuwes baas te raak. Ja, jy lees reg, elke deelnemer word met ’n wegspring-grimeersakkie bederf!

Maar opskud, daar is net 13 plekke oor. Buiten die werkswinkel, kry jy teen R1 750 ook grimering, versnaperings en ’n vonkelwyn-middagete. Die geleentheid vind by die Loch Lynne-wynlandgoed in Durbanville, Kaapstad, plaas.

Vir besprekings en meer inligting, kontak Anéne by anene.deklerk@media24.com.