Chemiese afskilfering met trichloorasynsuur (TCA)

Verskillende konsentrasies van dié suur kan direk om die oë aangewend word. Dit verwyder die boonste deel van jou vel om plooie, lyntjies, hiperpigmentasie en vaalheid te verbeter. Sowat vier afskilferingsessies twee weke uitmekaar lewer die beste resultate.

Mikronaalde

’n Mikronaaldbehandeling – waar ’n toestel met fyn naaldjies oor jou vel beweeg word – werk goed om lyntjies, dehidrasie en pofferigheid om jou oë te behandel omdat dit kollageenvorming aanwakker. Dit help ook om bestanddele soos hialuronsuur dieper te laat penetreer.

Laser- en ligbehandelings soos IPL

Laser dring die dieper deel van jou vel binne, waar dit kollageenvorming stimuleer en bloedsirkulasie verbeter. So kan dit donker kringe en ’n growwe veltekstuur behandel. Na gelang van jou probleem sal ’n terapeut aanbeveel vir hoeveel behandelings jy moet gaan.