
Haar geheim vir ’n vel wat gloei en hare wat blink? ’n Vars en gesonde slaai!
Amalia glo jy is wat jy eet. "Dit is my gunsteling-slaai: Dis propvol goodies en laat jou vel straal. Die slaai verminder werklik inflammasie in die vel en die pampoenpitte is ryk aan sink, wat veral goed is hiervoor. Dis kleurryk, vullend en smullekker!"
Daar het jy dit.
Goedvoel-slaai vir ’n stralende vel
"Ek gee nie hoeveelhede nie, want dit hang maar af van smaak en hoeveel mense saam eet," sê Amalia.
BESTANDDELE
* olyfolie
* balsemasyn
* heuning
* sout en varsgemaalde swartpeper
* rooi-ui, in dun ringe gesny
* sade, soos pampoenpitte, sonneblom- en vlassaad
* botter vir braai
* aspersies, in stukke gesny
* broccoli, in blommetjies gebreek
* aarbeie
* suiker-ertjies
* avokado
* vars kruie, soos roket, basiliekruid en ment
* gegeurde bokmelkkaas
METODE
1. Meng olyfolie, asyn, heuning en sout en peper en voeg die uie by. Laat week tot die uie sag en deurdrenk is.
2. Rooster die sade in ’n bietjie botter op die stoofplaat.
3. Stoom die aspersies en broccoli net vir 2 minute (dit moet nog bros wees!).
4. Sny al jou slaaibestanddele.
5. Sodra broccoli en aspersies afgekoel het, begin als uitpak op ’n groot houtplank. Rangskik soos jy wil.
6. Strooi die geroosterde sade oor.
Vir variasie kan jy gerookte hoenderstukkies byvoeg, of selfs gerookte forel, sê Amalia.FOTO Phyllis Green