Op skool het almal altyd gesê dat sy ’n prokureur moet word. Maar die aktrise Eloise Clasen het nog altyd geweet sy sou in die kunste beland. “As ek nie ’n aktrise was nie, sou ek heel moontlik ’n binnehuisversierder geword het.” 

Die afgelope paar maande het Eloise se Binnelanders-karakter, Julia, die besluit geneem om ’n dubbele mastektomie te ondergaan, nadat sy positief vir die BRCA1-geen getoets is. ’n Goeie vriendin het vir Eloise gehelp met die moeilike storielyn se voorbereiding. 

“Ek het ’n vriendin wat hierdie spesifieke kanker gekry het. Sy is een van die sterkste vrouens wat ek ken. Elke keer wat die dokter vir haar ‘n nuwe sperdatum gegee het, het sy dit uit oorleef. Sy het alles met my gedeel en so het ek baie kennis van die tipe kanker gehad.” 

Sy hoop dat Julia se storie vir mense sal bewus maak om vir gereelde ondersoek te ondergaan en na hulself te kyk.

Eloise en die akteur Cobus Rossouw se Binnelanders-karakters Julia en Hugo het uiteindelik weer bymekaar liefde gevind. FOTO Binnelanders

Ná groot verlies en trauma het haar karakter uiteindelik weer by Hugo Vos (Cobus Rossouw) uitgekom. Eloise het groot respek vir haar mede-akteur en het ’n belangrike les by hom geleer. “Om uit jou kop te kom en nie vas te klou aan die negatiewe stemme wat by jou as akteur spook nie.” 

Sy en haar akteur-man, Neels Clasen, gaan vir die feestyd saam met hul drie kinders vir 10 dae na haar ouerhuis in die Oos-Kaapse se dorpie Port-Alfred.

Hulle het die tyd van rus nodig, want in 2021 wag daar opwindende projekte. “Ek en Neels, saam met drie ander ongelooflike talente, is besig om nuwe Afrikaanse kindervermaak te ontwikkel, genaamd Kamma Kamma. Ons is baie opgewonde daaroor! As als goed gaan sal ons dit teen Maart kan bekendstel.”

En haar wens vir die nuwe jaar? “Om dieselfde ongelooflike kwaliteit tyd saam met my familie te kan spandeer, soos hierdie jaar, maar sonder die stres en finansiele implikasies.”

Eloise se akteur-man, Neels, lees boek vir hul drie kinders. FOTO Instagram / Eloise Clasen