As jy nie self wil hekel nie, kan jy gerus die PIP-hekelprojek van ’n groep bejaardes in die omgewing van Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap ondersteun.
Hul onderneming om besig te bly en ’n ekstra geldjie te verdien het uitgekring na ander vroue in behoeftige gemeenskappe. Elke vrou wat ’n bydrae lewer, word betaal vir haar werk.
- Besoek PIP om die produkreeks en kleuropsies te sien, of om aanlyn te bestel.
Begin by die begin met ’n Ouma-hekelblokkie (“Granny Square”)
Benodigdhede
Resbietjies dubbeldraad in 4 verskillende kleure, 4 mm-hekelpen
Afkortings
Gp(e) - groep(e); gs – glipsteek; her – herhaal; ks – kettingsteek(steke); lb – langbeen; rdte(s) – rondte(s); sp(s) – spasie(s); vlge – volgende
Hekel een blokkie só
Hekel 6 ks, las met ’n gs in 1e ks om ’n ring te vorm.
1e rdte: 3 ks (= telkens 1e lb), hekel 23 lb in ring, las met gs in 3e ks.
2e rdte: 3 ks, slaan 3 lb oor (insluitend die een onder 3 ks), * 6 lb in vlg sp (steek pen in sp tussen die onderste rdte lb), slaan 3 lb oor, 3 lb in vlg sp, slaan 3 lb oor, her rondom van * tot 4 hoeke van 6 lb gevorm is (met een gp van 3 lb tussenin) en las aan 1e lb.
3e rdte: Neem vlge kleur; 3 ks, 6 lb tussen 6 lb van hoek, 3 lb in vlg sp, slaan vlg gp 3 lb oor, 3 lb in vlg sp, hekel só verder tot rdte voltooi is, eindig met 2 lb (dit voltooi die laaste 3-lb-gp saam met 1e 3 ks).
4e rdte: Neem vlge kleur en hekel soos vorige rdtes, maar met 3 gpe van 3 lb tussen hoeke.
5e rdte: Neem vlge kleur en hekel soos 4e rdte, maar met 4 gpe van 3 lb tussen hoeke. Wissel ligte en donker kleure af en heg af.
Afwerking
As jy dit rondom ’n kombers wil vaswerk, meet hoeveel blokkies benodig word om rondom 4 sye te gaan. Werk dan blokkies aan mekaar tot 4 lang stroke, werk ook oortollige drade weg. Werk stroke met die hand en met gewone masjiengare en naald rondom kombers vas.