Belê in ’n oorgroot tafeldoek en lapservette en dek met min moeite ’n bekostigbare, maar treffende tafel. Swart breekgoed en silwer messegoed maak enige tafel gesofistikeerd, terwyl die verskillende takke en die saadpeule wat goud gespuitverf is en die wit kerse in bottels dit warm en gesellig laat lyk.

FOTO GREG COX EN WARREN HEATH VIR BUREAUX

WENK: Vir ’n spesiale geleentheid gebruik hope gekleurde kerse en blomme om die geleentheid met kleur en geur te vier. Al is dit net vir jou en een geliefde, weens inperking. 

So ’n ruiker kan met enige spesiale geleentheid aan die voordeur gehang word. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
SPUITVERF IS JOU VRIEND Omtower saadpeule in iets feesteliks met ’n bietjie goue spuitverf en versier jou Kerstafel of -pakkies daarmee. Vir Valentynsdag kies jy rooi of pienk en vir Paasfees wit. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
PAKKIES VIR ENIGE FEES Riffelkarton en sneespapier maak mooi geskenkpapier. Frommel die sneespapier om dit ’n linne-voorkoms te gee. Gebruik natuurlike tou en droë takkies om dit te versier. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
HERWINDE KERSHOUERS: Was leë glasbottels silwerskoon en vul tot by die nek met afgekoelde kookwater. (Dit keer dat die water te gou melkerig raak.) Plaas fynbostakkies in die water voordat jy kerse in die bottelnek druk. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
SKOONHEID IN EENVOUD: Wit papiersakke is die perfekte geskenksakke. Koop swartbordpapier (by skryfbehoeftewinkels te kry) en plak dit op die sak vas. Skryf jou spesiale boodskap hier. Versier met ’n takkie en lint. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
BLINK PLAN: Ou (of nuwe) gloeilampe maak interessante versierings. Gebruik ’n gomstiffie en teken ’n eenvoudige patroon soos ’n hart of ster (die maklikste is kolle) op die lampie. Sprinkel glinsterstrooisel oor. Laat droog word en hang versigtig aan ’n toutjie op. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux
UNIEKE SERVETRINGE: Gebruik ’n string krale (of ryg dit self) en draai dit om jou servet. Onthou, lapservette vertel dadelik dis ’n feestelike geleentheid en is omgewingsvriendelik. FOTO 2npxHwENHjj
KRANS VIR ELKE SPESIALE DAG: ’n Krans is nie net vir Kersfees nie. Draai ’n klompie lang takke (of klimop) in ’n groot sirkel om die krans te vorm. Om die taak te vergemaklik kan jy ’n stuk draad of selfs hanger in ’n ringvorm buig en die takke daarom vleg. Hang dit op met elke spesiale geleentheid. Voeg bv. houtvoëltjies vir Kersfees by, rooi linte en harte vir Valentynsdag en kunseiers vir Paasfees. FOTO Greg Cox en Warren Heath vir Bureaux